Kwaggas verpletter rekords op George-atletiekbyeenkoms
GEORGE. Verstommend.
Dít is dalk die enigste manier waarop die Hoërskool Outeniqua se prestasies op die jaarlikse George-streek-atletiekbyeenkoms beskryf kan word.
Die Kwaggas het vanjaar hul stem dik gemaak toe hul atlete 23 van die 25 byeenkomsrekords laat spat het.
Jo-Ane van Dyk, ’n gr.10-leerder van die Kwaggas, het weer ’n uitsonderlike prestasie behaal deur die spiesgooi vir meisies o.17 met ’n rekordafstand van 46.75m te wen.
Cathy-Anne Morkel (o.17), ook van Outeniqua, spog met ’n dubbele prestasie omdat sy die 100m (12.7s) en die 200m (26.3s) gewen het.
Khanya Ndibaza van die skool Imizamo Yethu op George het in die o.14 meisies-afdeling ’n byeenkomsrekord opgestel deur die spies 30.96m deur die lug te laat seil.
San-Marie Mulder (Kwaggas) het in die 400m vir meisies o.14 ’n byeenkomsrekord opgestel met ’n tyd van 1:03.0. Sy het ook die 800m in 2:29.1 gewen.
Danica Loock (Outeniqua, meisies o.14) het byeenkomsrekords in die 90m-hekkies (16.72s) en die 300m-hekkies (57.19s) opgestel deur albei nommers te wen.
In die hamergooi vir meisies o.14 het Bernadet Botha (Outeniqua) ’n byeenkomsrekord opgestel met ’n afstand van 16.87m.
Ruan Gericke (Kwaggas, seuns o.14) het byeenkomsrekords opgestel in die 100m-hekkies (16.15s) en die 300m-hekkies (48.33s).
Die Kwagga Barry Botha (seuns o.15) het die hamergooi met ’n afstand van 34.33m gewen. André Stander