SÓ DIG JY BEHOORLIK OOR ‘LIEFDE, SIEL, PYN, TRANE’ Riëtte Grobler
2013-02-25 01:00

Bibi Slippers.

Só dig jy behoorlik oor ‘liefde, siel, pyn, trane’

 

Dit is amper weer tyd vir die ATKV en JIP se gedigtekompetisie. Daarom publiseer ons vandag wenke deur Bibi Slippers, ’n joernalis en gepubliseerde digter wat tot onlangs by LitNet betrokke was, om jou te help om jou gedigte te slyp voordat jy dit inskryf.

- Kweek ’n dik vel. As jy regtig graag wil dig, moet jy gereed wees om saam met kritiek te leef, en leer om dit konstruktief terug te ploeg in jou skryfwerk. Kritiek sal nooit ophou seermaak nie, maar die manier waarop jy daarop reageer, kan aangepas word.

- Wees gereed om oor te skryf. Die belangrikste ding, en die ding wat jy die vinnigste moet baasraak, is die feit dat geen stuk skryfwerk ná ’n eerste poging klaar is nie. Daar kan (en moet!) altyd nog geskaaf word om aan jou gedig te verbeter.

- Lees soos ’n letterkundige. Wanneer die groot kreatiewe drang verby is en die eerste poging op papier is, haal jou kreatiewe hoed af en sit jou kritiese bril op. Lees jou eie gedig asof dit ’n vreemdeling se werk is. Lees die gedig asof jy dit in die klas behandel. Kyk net na wat op die papier staan en wat daardie woorde beteken. Analiseer en weeg jou woorde. Krap die gemors dood, en skryf by waar nodig. Maak vraagtekens by dele waarvoor jy nog nie oplossings het nie. Dink daaroor, laat staan die gedig, en kom terug daarna wanneer jy gereed is.

- Skryf konkreet. Woorde soos liefde, siel, pyn en trane is al soveel keer geskryf dat dit nie eintlik meer iets beteken nie. Jou uitdaging is om oor konkrete dinge te skryf, soos tafels, uie, gieters en krieketballe, en die pyn, trane en siele tussen die lyne te versteek. Beskryf konkrete dinge op so ’n manier dat die leser jou gevoelens aanvoel. Moet nooit die gevoelens uitspel nie!

- Lees. Lees, lees, lees. Jy kan nie skryf as jy nie lees nie. Moenie bang wees om deur ander digters beïnvloed te word nie - dit kan jou net goed doen. Gebruik die biblioteek, die internet, jou ouers en vriende se boekversamelings en lees soveel jy kan. Lees Antjie Krog, lees Loftus Marais. Lees Ronelda Kamfer en lees Fourie Botha. Lees die Nuwe Stemme-bundels as jy wil hoor hoe klink jong Afrikaanse stemme; lees die Groot Verseboek as jy wil weet waarna jy mik. Merk die gedigte waarvan jy hou en die waarvan jy nie hou nie. Verduidelik vir jouself waarom jy daarvan hou of nie. Skryf soveel jy kan, maar lees meer as wat jy skryf.

- Lees nog wenke en kyk binnekort na video’s van digters wat raad gee by www.jip.co.za.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur