JACK PAROW: GOEIE ‘VIBES’, GROOT PLANNE Gerik Slabbert
2013-02-25 01:00
Gillian Coetzee

Jack Parow.

Jy verwag so half hy gaan met jou in “zef-terme” praat of dat hy grootkop gaan wees. Maar dan kom jy agter Zander Tyler of Jack Parow, soos sy aanhangers hom ken, is ’n opregte, nederige en doodgewoon cool ou.

Jy is een van die groot trekpleisters op vanjaar se RAMfest. Wat kan mense verwag en waarna sien jy veral uit?
“Ja, ek sien baie uit. Dié jaar het ek goeie slots enRAMfest is altyd lekker en die mense daar het altyd lekker vibes en baie energie. En ek het ’n full band hierdie jaar en ek is ’n gas by Van Coke Kartel se Sameswering, waaroor ek baie excited is.”

Jou mees onlangse album, Eksie ou,is twee jaar gelede uitgereik. Wat is volgende?
“Dis nie dat ek nie besig was nie; ek het einde verlede jaar mos die Kersfees-edition van Eksie ou uitgereik met ses nuwe songs op.
“Maar een van die groot dinge waaraan ek werk, is ’n akoestiese album saam met Louwtjie Rothman. Dis glad nie ’n normale akoestiese album nie en ek dink nie mense het al so iets gehoor nie, want ons maak staat op baie ongewone klanke soos chainsaws en sulke goed.
“En ek wil ook graag aan die einde van die jaar ’n gewone nuwe Parow-album uitreik.”

Hoe was jy op skool? Was jy soet of was jy amper soos wat jy op die verhoog is?
“Nee, ek was glad nie goed in die skool nie. Ek het nooit regtig gewerk of enigiets nie. En ek was glad nie soet nie.
“As ek nou daaraan terugdink, was ek maar lekker stout.”

Het jy as 17-jarige gedink jy sal so ’n groot naam in die Afrikaanse musiekbedryf word?
“Nee, nooit nie. Ek sou dit nooit in my wildste drome kon voorspel nie.
“Dis vir my baie lekker dat ek nou die kans kry om musiek te maak, maar voor alles was dit eintlik net meer ’n stokperdjie.
“Ek het gewerk en gewerk en uiteindelik my geleentheid gekry.”

Wat geniet jy die meeste daarvan om in die musiekbedryf te wees?
“My gunstelingaspek van die musiekbedryf is die feit dat ek musiek kan maak en gehoor word. Om voor ander mense op te tree en om Afrikaans cooler en jonger te maak is ook vir my ’n groot eer. Ek geniet regtig wat ek doen en dis vir my lekker om mense te ontmoet, veral die mense met baie energie en goeie vibes.”

En wat geniet jy die minste?
“Die rondreis is aaklig. Ja, jy ontmoet baie mense en sien great plekke, maar dis baie lang ure op die pad en jy’s ingedruk in ’n bussie. En ’n mens begin terugverlang huis toe. So, ja, die ryery en die rondreis is nie juis vir my lekker nie.”

Is die bekende “Jack Parow-hoed” ongemaklik?
“Nee, die hoed word spesifiek vir my kop gemaak, so hy sit lekker gemaklik. Maar as ek op die verhoog is en ek spring en dans en jol rond, dan pla hy my ’n bietjie.
“Ek haal hom gewoonlik af so ná die eerste drie liedjies en gaan dan net aan met my optrede.”

Jy het jou eie platemaatskappy, Parowphernalia, en jy’s die enigste kunstenaar onder dié label, nè?
“In dié stadium, ja, maar daar is altyd plek vir uitbreiding.
“Ek is op soek na kunstenaars met die regte soort klank wat onder my label kan werk. Dis ook maar moeilik, want ons soek al ’n hele rukkie en ons het nog nie regtig iemand gekry nie.
“Maar ek droom van groot dinge vir Parowphernalia.”

Jy het ’n rol in die Afrikaanse fliek Babelas, wat Augustus uitgereik word. Vertel van die ervaring om die fliek te maak.
“Ek dink dit gaan regtig ’n lekker fliek wees.
“Die verfilming was ’n groot jol saam met mense soos Tammy-Anne Fortuin, Ian Roberts en Norman Anstey. Ek is regtig super-amped oor die fliek en [die rol daarvan] om Afrikaans ’n bietjie groter te maak.
“Om ’n fliek te maak was ook iets heeltemal anders as waaraan ek gewoond is. Dit was alles great fun en net meer goeie vibes.”


RAMfest is Suid-Afrika se grootste, jaarlikse alternatiewe musiekfees.

Die Johannesburgse fees word op 15 en 16 Maart by die Riversands Farm in Fourways gehou.
As jy tussen 16 en 18 jaar oud is, mag jy die fees bywoon saam met iemand wat 21 of ouer is.
Die groot internasionale acts op die fees is Rise Against van Amerika en Bring Me the Horizon, ’n Britse metalcore-band.
Van die Suid-Afrikaanse kunstenaars op vanjaar se fees is Van Coke Kartel, The Black Cat Bones en Holiday Murray.
Besoek www.facebook.com/ramfest. Kaartjies kos R550 stuk vir die hele fees as jy dit vooraf koop en R650 by die hek. Kaartjies is deur www.ticketbreak.co.za beskikbaar.

WEN!

JIP het drie stelle dubbelkaartjies vir RAMfest in Johannesburg gekry. Al wat jy hoef te doen om een te kry, is om die woorde “Fest/Jhb”, gevolg deur jou naam, van en ouderdom na 33844 te SMS. Die kompetisie sluit Woensdag om 12:00.

RAMfest weer in die Baai, en Jippers kan kaartjies wen

Die RAMfest vind vanjaar vir die tweede keer in Port Elizabeth plaas.

Op 15 Maart gaan van die beste plaaslike en internasionale DJ’s musiek maak by die Old Grey-klub.

Die internasionale sensasie Pendulum DJ Set & Verse, van Australië en Engeland, behoort baie belangstelling te lok.

Suid-Afrikaners op die program sluit Das Kapital, Guns ’N Lazers, DJ Kenichi, Le Prezident, Dane Mitchell, Down By Law en Downlowd Crew in.

As jy tussen 16 en 18 jaar oud is, mag jy die fees bywoon saam met iemand wat ouer as 21 is.
Daar is ’n beperkte aantal kaartjies teen R100 beskikbaar vir early birds. Ander voorafgekoopte kaartjies en kaartjies by die deur (min hiervan is beskikbaar) kos R150. Koop jou kaartjies deur Ticketbreak.

Drie lesers kan elk ’n dubbelkaartjie vir die RAMfest wen deur die woord “Fest/PE”, gevolg deur jou naam, van en ouderdom, na 0 3844 te SMS.
Die kompetisie sluit Woensdag om 12:00.



RAMfest in W-Kaap


Die Wes-Kaapse fees word van 7 tot 10 Maart by die Circle of Dreams¬ op Riviersonderend gehou.
As jy tussen 16 en 18 jaar oud is, mag jy die fees bywoon saam met iemand wat 21 of ouer is.
Die groot internasionale acts op die fees is Rise Against uit Amerika en Bring Me The Horizon, ’n Britse metalcore-band. Van die Suid-Afrikaanse kunstenaars op vanjaar se fees is Van Coke Kartel, The Black Cat Bones en Holiday Murray.
Besoek www.facebook.com/ramfest. Kaartjies kos R550 vir die hele fees as jy dit vooraf koop en R650 by die hek. Kaartjies is deur www.ticketbreak.co.za beskikbaar.


JIP het drie stelle dubbelkaartjies om uit te deel vir RAMfest in die Kaap. SMS die woorde “Fest/Kaap”, gevolg deur jou naam, van en ouderdom, na 33844. Die kompetisie sluit Woensdag om 12:00.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur