SWART KOFFIE MET ’N DONKER BOODSKAP Peter Pentz
2013-02-22 01:00

Die X + Y-geselskap is (VL) Llewellyn Stevens, Duard Robbertse, Akona Goniwe, Bradley Thompson, Luzey Uys, Ashley de Lange, Wian Taljaard, Jan-Beyers Jonker, Annake Horn, Des-Lee McKenzie en Chad Horn. Voor is Stian Bam, Anna-Mart van der Merwe, Tinarie van Wyk Loots en Brendon Daniels.

Swart koffie met ’n donker boodskap

Peter Pentz, JJ

Toneelstuk: X+Y

Die tienerproduksie X+Y is soos ’n swart koffie. Donker. Party mense hou daarvan so en party nie, maar dit laat jou in elk geval regop sit.

Die produksie het sy debuut gemaak by die onlangse Suidoosterfees in Kaapstad. Die rolverdeling bestaan hoofsaaklik uit ’n groep tienerakteurs (http://bit.ly/WIGF60), wat saam met bekende akteurs soos Anna-Mart van der Merwe en Stian Bam speel.

Wat dié toneelstuk anders maak as ander stukke wat jy dalk al gesien het, is dat dit reeds begin wanneer die gehoor nog by die teater instap.

Die toneelstuk, waarvan Marthinus Basson die regie behartig het, handel oor generasie X wat die ouers is, en die generasie Y wat die kinders voorstel en hoe elk van dié groepe hul lewe ervaar en met probleme sukkel. Die konflik tussen die twee generasies word ook ondersoek.

Daar word kwessies hanteer waarmee vandag se tieners sukkel. Dinge word ook gesê soos dit is en van doekies omdraai is daar geen sprake nie.

Die gebruik van oormatige kru-taal en onder die belt grappies het die gehoor partymaal ongemaklik laat rondskuifel. Maar dít is hoe die jeug, of minstens tieners, in die produksie voorgestel word - dit is ongelukkig nogal 'n veralgemening en laat dit lyk asof alle tieners deel is van dié stereotipe.

Tog lê daar ’n diep en filosofiese boodskap agter die produksie en is dit interessant om te sien hoe die jong akteurs met die professionele verhoogmense skouer skuur.

X+Y gaan weer in Maart by die Woordfees op Stellenbosch op die planke wees. Sien die volledige program hier: http://www.woordfees.co.za/produksies_2013/

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur