OM ’N MONSTER DOOD TE MAAK James de Villiers
2013-02-18 01:00
Thinkstock

Om ’n monster dood te maak

 

Anene Booysen van Bredasdorp was ’n paar weke gelede ’n gewone 17-jarige. Toe word sy wreed verkrag en vermoor. Dit het Suid-Afrikaners laat skrik. En van Anene nog ’n deel van die land se verkragtingstatistieke gemaak.

Maar wat nou?

Ons praat dikwels oor die monsters in ons samelewing. Monsters wat dwaal in die donker van kinderpornografie en mensehandel. Wat families verwoes.

Ons sê rondom Sondagmiddae se koppies tee dat die doodstraf weer ingestel moet word. In lewensoriënteringsklasse gebruik my klasmaats woorde soos ‘‘kastreer hulle’’. ’n Oom sê trots hy sal sy geweer vat en hulle skiet. Doodskiet.

As 18-jarige het ek myself ook al dikwels afgevra waarom God my as man geskape het. Sou die wêreld nie veel lekkerder gewees het as ek ’n plaashond was wat heeldag in die sonkol op die stoep kon lê nie?

As hond sou ek ook nie hoef deel te hê aan ongemaklike oomblikke in klasse en badkamers nie. Ja, ’n hond sou nie herhaaldelik onderwyseresse se name sien misbruik word deur die vieslike gedagtes van hormoonbelaaide tienerseuns nie. ’n Hond sou niks verstaan van die vieslike kyke wanneer meisies netbal speel nie. Nie woorde teen badkamermure of taalgebruik in pouse-gesprekke verstaan nie.

Tog is ek nie ’n hond nie. Ek is ’n man wat myself ook afvra of ek nie ook ’n geweer moet opneem as dié tipe dinge rondom my gebeur nie.

Ek wil die verskil wees wat die monster in my leefwêreld wil skiet. Doodskiet. Want dié monsters mismaak die opregte skoon gedagtes van jong seuns, vermors onskuldige denke met afskuwelike dade.

Moet ons nie dié monsters ook kastreer nie? Het die skade wat hulle pleeg nie ook die dood as verdienste nie?

Soos ek gesê het, ek sal dié monsters skiet. Ek gaan hulle skiet. Nie met aggressie of haat soos die wêreld my in die Sondagaand-flieks leer nie. Nee, ek gaan praat waar daar stilte is. Praat waar dit nog altyd nodig was.

’n Monster se impak raak net sterker waar die waarheid wegkruip.

Die waarheid sal dalk nie die monster vernietig nie, maar dit bied ’n keuse aan dié wat geraak word. XJames is ’n JJ en in gr.12.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur

Llewellyn Stevens

2013-02-18 17:24

Well said, James. Damn!