RUSSIESE-DRAMA Lynné Schoeman
2013-02-15 01:00

Russiese-drama

 

Anna Karenina

****

Dié tragedie, gebaseer op Leo Tolstoi se roman, Anna Karenina, speel in die laat 19de eeu in Rusland af. Dit handel oor die aristokratiese Anna (Keira Knightley) wat vasgekeer is in ’n koue, vervelige huwelik met gesiene regeringsamptenaar, Alexei Karenin (Jude Law).
Sy vind groener weivelde in die gedaante van die (veel jonger) graaf Vronsky (Aaron Taylor-Johnson). Die gevolge is wat ’n mens sou verwag in ’n samelewing waar die reëls “deur die mans, vir die mans” gemaak word.

Die fliek herinner aan die deftige sosiale kringe in Pride and Prejudice, met dieselfde regisseur en boonop speel Keira Knightley ook die hoofrol. Die verskille is egter duidelik:  Anna Karenina speel sowat 100 jaar later af, dit is nie so kindervriendelik soos  Pride and Prejudice nie en die einde is ongelukkig ook nie so gelukkig nie.

Anna Karenina was in 2007 onder die Time se top-tien boeke van alle tye en heelwat Tolstoi-aanhangers voel die fliek doen nie die roman gestand nie. Veral die gebrek aan korrekte uitspraak van Russiese name het hulle die josie in gemaak.  

Lesers van die New York Times het die film ’n gemiddeld van drie sterre gegee, terwyl Rotten Tomatoes dit as 63% “vars” bestempel het.

Hoewel die ouderdomsbeperking 13 is, is die fliek eerder aan te beveel vir meisies van 16 jaar en ouer. Die rolprent is nie so maklik om te verstaan nie en kykers in dié teikengroep sal meer waardering hê daarvoor.

Indien jy ’n romantiese fliekganger is, wat daarvan hou om soms intellektueel uitgedaag te word, sal jy geboei sit en kyk na dié spannende stryd tussen liefde en dit wat reg is.

 

- Lynné Schoeman, JJ

 

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur