DAAR IS NIKS WAT EK MEER GENIET AS... Mieke Relihan
2013-02-14 01:00

Daar is niks in hierdie lewe wat ek meer geniet as om my kamer reg te pak nie...

 

... okei, nie regtig nie (stokkielekkers en wit rose bly my eerste liefde), maar as ’n mens jou kamer reg pak kry jy altyd lank vergete goed waarmee jy eers speel.


Of soos ek, ou liefdesbriewe van graad drie. Met ’n ingekleurde rooi hartjie en die woorde “EK” en “JOU” aan beide kante van die hartjie geskryf op ’n stuk opgefrommelde lyntjiespapier.

Wat die stomme siel se naam is wat dit vir my geskryf het, kan ek nie onthou nie. En ek twyfel of ek ooit dankie gesê het vir die ding, want, jy weet, dit was iemand van die "vuiler" geslag en soos enige meisie van daardie ouderdom behoort te weet, het hulle kieme.

Ek is vandag hewig ontsteld dat hy nie oor sy liefde vir my uitgebrei het nie, ek het net ’n skrale drie woorde gekry.

Valentynsdag is dié lekkerste  dag vir my. Dit voel asof almal mekaar lief het, ek voel sommer lus en gaan gee die tuinier ’n drukkie.

Dit gaan oor chocolates en briefies en blommetjies. Party mense haat Valentynsdag, “Blomme verlep en chocolates maak vet” en party wonder en bespiegel oor die oorsprong. Maar who cares?

As jy ’n blom van ’n geheime bewonderaar kry en daardie draai-gevoel in jou maag beleef, kom niks naby dié gevoel nie. Romeo en Juliet all over again
Maar Romeo en Juliet is nie vir my die romantiesste storie ooit nie. Ons almal kan gif drink, liefie.

Wat regtig van oor tot oor laat glimlag is bejaarde mense wat steeds verlief is. Wat in die straat afloop, hand aan hand. Wat saam inkopies doen. Stralende ou tannies met blomrokkies en ou ooms met keppe op. Hulle het al baie sakke sout saam opgeëet. Deur dik en dun. Dit is my die mooiste prentjie ooit.

Toe ek verder deur my ou briewe kyk, vind ek iets baie beter: ’n ou blommetjie wat al baie beter dae gesien het.

Ek onthou dat iemand oor ’n muur gespring het om dit vir my te pluk, en hoe dit my laat voel het. Dit was nie op Valentynsdag nie. Ek het toe besluit om die mense in my lewe ook so te laat voel.

Ek het nie my ma se blommetuin ingevaar en links en regs begin blomme uitpluk nie( nie dat daar veel is om te pluk nie, jammer mams!)

Maar ek dink om vir almal ’n baie vriendelike glimlag te gee wat verby jou loop, meer beteken as wat jy dink.

 

- Mieke is ’n JJ

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur