STELLIES MAAK MTBS-GESKIEDENIS Kobus Pretorius
2013-02-11 01:00
Jaco Marais

Lance Blows van Stellenberg het die 100m-hekkies vir seuns o.15 in 14.38 sekondes gewen.

Stellies maak MTBS-geskiedenis

 

BELLVILLE. Die Hoërskool Stellenberg het by die 19de MTBS-atletiekbyeenkoms die geskiedenisboeke op meer as een manier herskryf.

Stellies, soos die skool ook bekend staan, het Vrydag in die Bellville-atletiekstadion vir die eerste keer die atletiekbeker verower.

Nie net dit nie. Hy het ook die eerste skool geword buiten D.F. Malan wat dubbelgoud gewen het wenners van die atletiek sowel as die sangbeker.

Die hoërskole Tygerberg en Bellville is die ander skole wat aan die MTBS deelgeneem het.

Stellenberg het ook vir die vyfde jaar agtereenvolgens die sangbeker gewen in ’n dag wat ongetwyfeld aan hom behoort het.

Sowat 12000 toeskouers het teen Vrydagoggend 07:00 gereed gesit om die openingseremonie te aanskou waar elke skool ’n geleentheid kry om hul kreet te sing. Elke skool het sewe minute gekry om puik illustrasies met hul skoolbaadjies te flits en die beoordelaars en toeskouers met hul sang te betower.

Die temas van die onderskeie hoërskole was: D.F Malan met “On the Move”, Tygerberg met “Space Jam”, Bellville met “Big Bang Bellville” en Stellenberg met “Celebration Generation”.

Honderde atlete van die vier skole het deur die loop van die dag sake op die atletiekbaan uitgespook.

Twee atlete wat groot opslae gemaak het, was Chanel Leuvenink van Stellenberg en Angus Julies van Tygerberg.

Chanel het die trofee vir die beste meisiesprestasie van die dag ontvang vir die 920 punte wat sy in die 400m-hekkies op die ASA-tabel verower het. Angus het 930 ASA-punte behaal vir sy oorwinning in die 110m-hekkies en is gevolglik met die trofee vir beste seunsprestasie asook die beste algehele prestasie van die dag beloon.

Aangesien D.F. Malan voor Vrydag die atletiekbeker sewe keer op ’n streep gewen het, was baie mense verras toe Stellenberg met die beker weggestap het.

“Dis onbeskryflik! Ons het glad nie verwag om albei bekers te wen nie,” het die Stellenberg-dirigente opgewonde gesê.

Hoewel almal teen mekaar meeding, gaan dit vir die vier betrokke skole oor meer as net wen. Joh Dorfling, D.F. Malan se skoolhoof, het gesê die MTBS is ’n geleentheid vir skole om hegte bande met mekaar te smee. Die spanwerk van die paviljoen en atlete is iets waarop veral die skoolhoofde trots is. “Die massadeelname op die paviljoen en atletiekbaan is wonderlik,” het Deon du Plessis, skoolhoof van Bellville (vanjaar se gasheerskool), gesê.

Na só ’n dubbele sukses wou ons weet wat die Stellies se geheim is?

“Practise makes Stellies,” het hul dirigente geskerts.

Marleze en Corien (albei matriek) is onderskeidelik sportredakteur en redakteur van die Hoërskool Bellville se skoolkoerant, Sapiens.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur

Michel

2013-02-13 20:48

In die huidige formaat mag bg stelling van die wen van atletiek & sang beker waar wees, maar Tygerberg en DF Malan was laaank voor die MTBS, ook deel van die MTHM, en uit daai geskiedenis, is die stelling beslis nie waar nie.