SWANGER MET VRYHEID Gerik Slabbert
2013-02-11 01:00

Swanger met Vryheid

 

Ek sal graag wil spog oor hoe ongelooflik besig matriek is. Veral nou met toetse en atletiek en dirigent wees, ’n leier wees en hoe sport en kultuur en akademie mekaar boks om die top-spot te kry.

Maar om eerlik te wees, is ek nou heeltemal ontspanne met ’n glas Pepsi en ’n muffin in my hand.

Moet my nie verkeerd verstaan nie skool was nog nooit ’n grap nie, en ek ís besig, maar dis nou glad nie die ‘‘matriek-massacre’’ waaroor almal my bang gepraat het nie.

Dis hoekom ek tot die slotsom gekom het dat matriek presies dieselfde as swangerskap is (ek lei dit nou maar af van wat ek al op televisie gesien het, of in my familie).

Aan die begin van die ding is jy heel gelukkig en bly en trots. Maar dan begin jy huil en beetslaai en cornflakes op dieselfde tyd eet.

Sien, ek is nou nog in my eerste trimester (of semester, of kwartaal), en dis nog heel oulik.

Ek loop rond soos ’n baas van die plaas met my mooi klere en gloei omtrent van belangrikheid. Almal vra my wat my ervaring is, en ek glimlag en sê dis fantasties. En om die een of ander eienaardige rede vat almal aan my maag.

Maar net soos ’n swanger vrou begin my voete swel van rondhardloop, en ek kan ruik en aanvoel dat ek letterlik dae weg is van skree en sjokolade oor wortels gooi.

Want net soos met swangerskap waarsku niemand jou hoe sleg dit regtig gaan raak nie. En net soos met swangerskap kry jy aan die einde ’n baba (met die naam Vryheid); en net soos met swangerskap het jy nie regtig ’n idee wat om te doen as Vryheid eers gebore is of hoe om dié bondeltjie vreugde te hanteer nie.

Maar soos ek gesê het, ek is nog heeltemal rustig besig om ’n muffin te eet en my maag te vryf. Die rustigheid voor die storm.

Dit is net jammer ek wéét eintlik wat kom. Daarom, sterkte, my mede-matrieks! En maak ou Vryheidjie tog maar mooi groot.

- Gerik is ’n JJ. Hy is in matriek aan die Hoërskool Lichtenburg.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur

Freda

2013-02-14 17:36

Well done Geri!

Noeline Terblanche

2013-02-11 11:35

Uitstekend,Gerik!Jou Liggie skyn Helder vir Liggies!!

Anike van der Merwe

2013-02-11 11:29

Ek lovit! Well done Gerik! =)

Hoërskool Lichtenburg

2013-02-11 10:36

Ons is trots op jou kreatiwiteit, jou menswees, lojaliteit en vriendelikheid en sommer net dat jy " ons Gerik" is !!!