JEUG WYS SY SLAG OP PUK SE TOP-10 Sharlene Sharim
2013-02-04 01:00
Marius Nortjé

Franco van den Berg van die Hoërskool Randburg span al sy kragte in om die gewigstoot vir seuns o.17 met 17.61 m te wen. Die Internasionale vereniging van atletiekfederasies (IAAF) se vereiste is 17.70 m.

Jeug wys sy slag op PUK se top-10

 

Atlete was wyd en syd bedrywig met twee top-10- en ’n handvol prestige-byeenkomste wat die afgelope week plaasgevind het.

Die HTS Middelburg het die eerste plek op die Bethal-top-10 ingeneem. Hoogenhout en die HTS Witbank was onderskeidelik tweede en derde.

Waterkloof en Menlopark het skoonskip gemaak op hul onderskeie byeenkomste wat Vrydag en Saterdag in Pretoria gehou is.

Die NWU-Puk se top-10-byeenkoms het atlete van 76 skole landwyd na die Pilditch-stadion gelok. Van die land se voorste jeugatlete was hier in aksie.

Die Wêreld-jeugbyeenkoms, wat op 10 Julie in die Oekraïne begin, sal beslis een van die hoogtepunte op vanjaar se atletiekkalender wees. Daarom is die oë reeds gevestig op jeugatlete wat moontlik hul plek in die Suid-Afrikaanse span sal bespreek.

Atletiek Suid-Afrika sal egter eers binnekort sy kwalifiserende vereistes vir dié byeenkoms bekendmaak.

Dié vereistes is gewoonlik heelwat strenger as dié van die internasionale vereniging van atletiekfederasies (IAAF), wat reeds aanlyn beskikbaar is.

Al moet die plaaslike seisoen nog behoorlik op dreef kom, is daar heelwat om oor opgewonde te raak.

Tshepang Makete van die HTS Sasolburg het ’n allemintige 71.06 m in die hamergooi vir o.17-seuns aangeteken en daarmee die byeenkomsrekord (54.88 m) verpletter. Hy het ook die IAAF se vereiste 63.00 m vir dié item oortref.

Sy spanmaat Stefanie Greyling het 54.57 m in die hamergooi vir o.17-meisies behaal moontlik ’n Suid-Afrikaanse jeugrekord.

Leandri Geel van Monument het haar diskus 47.06 m ver geslinger. Ook sy het nie net dié item vir o.16-meisies gewen nie, maar die IAAF se standaard (42.00 m) oortref. Ashleigh Nieuwenhuizen, ook van Monnas, was tweede met 44.03 m.

Leandri het ook die tweede plek in die gewigstoot vir o.16-meisies met ’n afstand van 14.56m behaal. Monique Wagner van Kempton Park was eerste met 14.76 m.

Die Kempie Ekhardt Rossouw het die 400 m vir o.17-seuns in 48.41 gewen en die derde plek in die 200m (21.71) behaal. Paul Maluleka van Klerksdorp was eerste in 21.44.

Justin Bhana was een van die haastigste 100 m-atlete van die byeenkoms. Dié o.17-atleet het die 100 m in 10.89 kafgedraf. Megan Phillips (Helpmekaar) het ’n tyd van 12.16 s in die 100m vir o.16 meisies aangeteken.

Lihan Botha (o.17) van Transvalia het die 400 m-hekkies in 53.74 s gewen, en Gustav Marais en Leon Laubser van die Paarlse Hoërskool Gimnasium het in die spiesgooi vir o.16- en o.17-seuns met onderskeidelik 65.96m en 71.91 m beïndruk.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur