SO SKOP-SKOP Riëtte Grobler
2013-02-04 01:00
Mary-Ann Palmer

Artemis Spyropoulos van die Redhill High School in Sandton, Johannesburg, met die skopfiets, skooltas en lessenaartjie in een waarmee sy in die Woolworths-kompetisie Making a Difference Through Design gewen het.

So skop-skop

 

Het jy geweet 76% van Suid-Afrikaanse skoliere stap skool toe of dat dit 506000 leerlinge daagliks meer as ’n uur kos om smiddae te voet by die huis te kom?

Dié syfers van die departement van vervoer het Artemis Spyropoulos, ’n gr. 11-leerling aan die Redhill High School in Sandton, gemotiveer om ’n omgewingsvriendelike skopfiets te ontwerp wat die reis skool toe vir leerlinge vinniger en makliker sal maak.

Artemis se Scoot-2-School-konsep was so in die kol dat sy verlede jaar aangewys is as die wenner in Woolworths en Sappi se kompetisie Making a Difference Through Design. Dié kompetisie daag hoërskoolleerders in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap uit om in hul gemeenskap ’n probleem uit te wys wat met volhoubaarheid te doen het en met ’n volhoubare ontwerpoplossing vorendag te kom.

 

Maak die wêreld beter

 

Verlede jaar was die kompetisietema “Jy het die mag om ’n beter wêreld te skep”.

Artemis, wat aan die kompetisie deelgeneem het as deel van die ontwerpkurrikulum by haar skool, het nie op haar laat wag nie.

“Ek is ’n baie bevoorregte leerling en word daagliks met ’n kar by die skool afgelaai,” sê Artemis.

“Maar toe ek begin navorsing doen, het ek besef duisende leerlinge is nie so gelukkig soos ek nie. Die statistieke is skokkend en daarom het ek besluit om ’n omgewingsvriendelike oplossing vir dié probleem te soek.”

Dié oplossing is ’n eenvoudige skopfiets, waarby Artemis ’n kompartement vir skoolboeke en penne gevoeg het. Die kompartement vou só oop dat wanneer jy plat op die grond sit, jy dit as ’n lessenaartjie kan gebruik. Dit is veral nuttig in gemeenskappe met ’n tekort aan lessenaars.

“Al die materiaal behalwe skroewe en boute is hergebruik, soos afvalhout en herwonne plastiek van al die inkopiesakke wat ons so roekeloos gebruik,” verduidelik sy.

Om te verstaan hoe plastiek nou eintlik herwin word, het Artemis ’n dag in ’n herwinningsfabriek deurgebring.

“In Johannesburg sien ’n mens baie mense wat met groot waentjies vol plastiek stap. Hulle gaan na herwinningsfabrieke soos dié, waar die plastiek geweeg word.

“Hulle word daarvoor betaal,” sê sy.

In nog ’n fabriek het sy die proses beleef waarin herwonne plastiek verwerk word om ’n nuwe materiaal te skep.

“Dié materiaal kan net soos hout lyk en jy kan dit in enige kleur laat maak,” sê Artemis, wat besluit het om dié kammahout-plastiek by een van haar ontwerpe te inkorporeer omdat dit so lig is.

Op stortingsterreine het sy afvalmetale bymekaargemaak wat vir die skopfiets se onderdele gebruik is.

“Die gebruik van herwonne materiaal of die hergebruik van afvalhout beteken geen koolstofdioksied word in die vervaardiging van my skopfiets vrygestel nie. Die materiale is maklik om in die hande te kry en onderdele kan vinnig en goedkoop vervang word,” sê sy.

Die begroting vir die maak van die Scoot-2-School-skopfiets is net R14 wanneer dit van hout gebou word, terwyl die skopfiets van herwonne plastiek R60 kos en ’n lewensduur van tot 60jaar kan hê.

“Dit is sinvoller om die plastiekweergawe te gebruik omdat die houtskopfiets dalk in die wind en weer kan verrot,” verduidelik Artemis, wat die hulp van ’n handige vriend ingeroep het om die eindproduk reg aanmekaar te sit.

 

 

Van 30 min. tot 9 min.

 

Vir die sakeplan wat sy as deel van die projek moes ontwikkel, het sy marknavorsing gedoen om vas te stel of die skopfiets regtig ’n verskil kan maak.

“Ek het die fiets vir Linda Ketsikile, wat in gr. 10 aan die Ibhongo High School in Soweto is, gegee om op die proef te stel,” sê Artemis.

“Linda se reis skool toe duur gewoonlik ’n halfuur, maar met die skopfiets was hy binne nege minute by die skool én betyds. Ons was lank voor baie van die ander leerlinge daar!”

Volgens Artemis is nog ’n belangrike manier waarop haar skopfiets beter lewensgehalte vir leerlinge kan verseker die feit dat hulle betyds by die skool kan wees.

“By Linda se skool staan die skoolhoof voor die hek om straf uit te deel aan almal wat soggens laat kom.

“Die projek het my oë laat oopgaan, want voorheen was ek nooit so omgewingsbewus nie. Ek het ook by ander kulture geleer,” sê Artemis.

“Ek hoop ons kan die konsep ontwikkel en ek droom daarvan dat elke kind in Suid-Afrika eendag kan ‘scoot 2 school’.

“Hoe wonderlik sou dit nie wees as die gr. 12’s van die vorige jaar hul skopfietse aan die volgende jaar se gr. 8’s sou skenk nie?”

 

 

Wil jy meer weet?

 

As deel van haar eerste plek in die ontwerpkompetisie Make a Difference Through Design gaan Woolworths Artemis se ontwerp volgende maand op die Design Indaba (www.designindaba.com) in Kaapstad uitstal. Sy sal ook daar wees om oor die konsep te praat en met van die wêreld se topontwerpers skouers te skuur

Vir meer inligting oor Scoot-2-School, of as jy betrokke wil raak, stuur e-pos na scoot2school@hotmail.com.

 

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur