MIN SKITTER IN DIÉ HITTE Mieke Relihan
2013-02-04 01:00

Min skitter in dié hitte

 

Ek wou vir Jessie skewebek trek toe Meneer iets sê van sonbrand toe ek dit voel.

’n Druppel sweet wat sekerlik sy pad van my neus na my bolip en nou my mond gevind het.

Maar wat het ek dan verwag?

Dis 40C buite en ons sing soos besetenes in die saal. Met, wag vir die ergste, ons blazers aan. En nou het ek absoluut geen benul meer wat die dominee gesê het en ook wat Abel aangevang het nie. Ek gaan nou nie die vrae aan die einde van die saalperiode kan beantwoord nie. Ag, en ek is ook nie lus vir ’n “baie geluk jy het meer as een breinsel”-Fizzer nie.

Ek kyk weer vir Jessie. Ons kyk vir mekaar. Ek wéét ons dink dieselfde ding: Hoekom mag die onderwysers in hul koel somerklere daar op die verhoog sit en afkyk na ons?

Ons wat pap-sop-wens-dit-was-winter-waternat hier sit en vergáán van die Malmesbury-hitte!

Op die eerste skooldag, nogal.

My hare was alte mooi ge-straighten met nie een nie, maar twee vlegseltjies in my bokstert (sodat ek nie heeltemal van die vakansie se rasta-vibe afskeid hoef te neem nie).

Dít, my liewe vriend, gebeur maar min.

Maar soos sake nou staan, kon dit nie anders nie: Ek is in gr. 10 en ’n senior. Toe ék in gr. 8 was, het die seniors vir my baie groot en volwasse gelyk. Altyd eksie-perfeksie. Met reguit hare en baie mooi velle en spierwit sokkies wat hoog opgetrek is om hul kuite groter te laat lyk (probeer dit, dit werk!).

En ek wou vanjaar die mas opkom en vir ons ou groentjies se onthalwe soos ’n senior skitter.

Maar my hare het weer begin krul so om en by 20 minute nadat ek aan die begin van my skooldag in my vriende se arms gespring het. Die simpel sokkies het rekkies nodig om bo te bly en ek het uitgevind dat water dalk vir my ouma se vel sou gewerk het, maar dat ons vandag onderlaag moet aansit. Sommer baie.

As senior besef ek alles is toe nie so perfek in die ouer grade nie, al dink ons almal so.

Ek skrik groot toe Jessie my met haar elmboog bykom. Plaas sy my laat dagdroom tot hierdie nagmerrie van ’n saalperiode verby is, maar ons moet staan. Om nóg te sing.

Ek bars van opwinding. Regtig in ekstase.

En vee maar die sweet af en sing die skoollied uit volle bors.

Nooit sal ek nié op aandag staan vir my skool nie. Al is dit ook 50C buite.

 

- Mieke is ’n JJ. Sy is in gr. 10 aan die Hoërskool Swartland.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur