Goeie jaar wag op Wayne
JOHANNESBURG. Vanjaar kan ’n groot jaar vir die Wes-Kaapse tennisster Wayne Montgomery wees.
Wayne, ’n boorling van Somerset-Wes, is tans op goeie peil.
Hy het die laaste tyd reeds in twee internasionale toernooie die uitspeelrondes van die toernooie gehaal.
Dié 17-jarige leerder van Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch is verlede Donderdag in die kwarteindronde van die Australiese Ope vir juniors uitgeskakel.
Wayne (7de gekeurde onder juniors) het teen Nick Kyrgios (1ste gekeurde) van Australië met 1-6, 1-6 verloor.
Hy het ’n week tevore in die eindstryd van die AGL Loy Yang ITF-reeks teen dieselfde teenstander vasgeval. Dié toernooi dien as opwarming vir die Australiese Ope se junior toernooi.
Plaaslike tennisondersteuners kan egter steeds trots wees op Wayne, wat so goed presteer ondanks sy skoolloopbaan en ’n vol program.
Dit bewys dat daar in Suid-Afrika wel jong talentvolle spelers is wat oor ’n paar jaar kan oorneem by iemand soos Kevin Anderson, wat tot onlangs self uitstekend gevaar het.
Kyrgios beskik oor ’n kragtige afslaan van sy afslane is teen 216km/h gemeet.
“Ek het regtig gesukkel om sy speelstyl af te dwing. Nick het goed begin en my vroeg reeds ontsenu. Dit was moeilik om terug te kom,” het Wayne oor die kwarteindstryd gesê.
“Ek het baie respek vir Nick. Hy is die nommer-een-junior in die wêreld en verdien om daar te wees.” Sportredaksie