SWD RUK HULLE REG EN WEN Sarel Burger
2013-01-28 01:00

KAAPSTAD. Die Suidwestelike Distrikte se o.19-krieketspan het hom die afgelope week pragtig reggeruk ná die loesing wat hy die vorige week teen die WP op die lyf geloop het. Hy het die span van Grens in Oos-Londen ’n groot drag slae toegedien.

Terselfdertyd het die WP die afgelope week onverwags sy rieme teen die Oostelike Provinsie styfgeloop.

Nadat die SWD 397/9, gesl., opgestapel het, kon Grens net met 233 en 182 lopies antwoord wat meegebring het dat die SWD uiteindelik net 19 lopies moes aanteken vir ’n negepaaltjie-sege. ’n Derdepaaltjie-vennootskap van 107 lopies tussen Ruan Stander (133) en Jean Heunis (47) het die ruggraat van die SWD se eerste beurt gevorm. Ook C. Marrow (51), L. van der Horst (50), L. Spies (45) en T. Marrow (37) het hul kant gebring.

J. Pieters en L. Roelofse was die Suid-Kaapse boulers wat in die Grens-kolfbeurte die meeste welslae behaal het.

Die WP het in Goodwood ’n liederlike ineenstorting teen die OP gehad toe hy vir net 88 lopies uitgeboender is, waarop die besoekers met 234 geantwoord het. Alexander Mather (4/46) was die suksesvolste bouler.

Die WP moes in sy tweede beurt gevolglik behoorlik walgooi. Danksy David Bedingham (101), Jack Newby (49), Mather (41) en Clyde Fortuin (32) het die tuisspan 285 lopies aangeteken wat die OP ’n wenteiken van 140 gelaat het. Die OP (143/3) het met 7paaltjies geseëvier.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur