TIENERAKTEURS WORD ‘PRO’S’ Riëtte Grobler
2013-01-28 01:00

Die X + Y-geselskap is (VL) Llewellyn Stevens, Duard Robbertse, Akona Goniwe, Bradley Thompson, Luzey Uys, Ashley de Lange, Wian Taljaard, Jan-Beyers Jonker, Annake Horn, Des-Lee McKenzie en Chad Horn. Voor is Stian Bam, Anna-Mart van der Merwe, Tinarie van Wyk Loots en Brendon Daniels.

Tienerakteurs word ‘pro’s’

Moderne tieners en hul ouers vryf mekaar dikwels verkeerd op. Dít is een van die temas wat ondersoek word in Christiaan Olwagen se nuwe toneelstuk X+Y, wat Sondag op die Suidoosterfees in Kaapstad debuteer. Elf tienerakteurs wat verlede jaar in die Stad Kaapstad Toneelkompetisie gekies is, speel in dié produksie naas Anna-Mart van der Merwe, Brendon Daniels, Stian Bam en Tinarie van Wyk Loots.

Maar ten spyte van die verskil in ervaring en ouderdom tussen die produksiedeelnemers was daar geen sprake van generasiewrywing op die stel van dié “tragikomedie oor genetika”, soos een van die spelers, Llewellyn Stevens, die stuk beskryf nie.

Llewellyn, wat verlede jaar aan die Hoërskool Vredendal gematrikuleer het, vertolk die rol van die komeet Gary.

“Die karakter is ’n waarnemer wat vir almal se stories kan glimlag. Dit was maklik om in sy vel te klim,” sê hy.

Dit was die leiding van die regisseur, Marthinus Basson, wat gesorg het dat jong akteurs hul karakters behoorlik verstaan.

“Marthinus is ’n genie, en om saam met hom te werk was ’n groot leerproses,” sê Annake Horn. Sy het verlede jaar (as topmatrikulant in die Noord-Kaap) aan die Hoërskool Upington gematrikuleer.

“Vooraf voel jy nogal geïntimideer om saam met iemand soos Marthinus te werk. Maar hy stel soveel in jou belang, en dra selfs vir jou boeke aan oor dinge wat jou interesseer, dat jy vinnig op jou gemak voel,” sê Annake. “As regisseur gee hy jou leiding, maar genoeg vryheid om jou karakter te verken.”

Annake se karakter, Lara, verpes haar ma, ’n “koue vrou”.

“Dit was nogal moeilik om in Lara se vel te klim, omdat ek my nou nie juis met haar vereenselwig nie, maar ’n mens probeer dink aan ’n situasie waarin jy self ook alleen gevoel het en leef dit uit.”

Ook vir Jan-Beyers Jonker, wat verlede jaar in gr.12 aan die Hoër Jongenskool Paarl was, was betrokkenheid by X + Y ’n geleentheid om van sy persoonlikheidstrekke uit ’n nuwe hoek te bekyk.

“Ek speel Erik. Sy pa is dood, en hy is ’n bietjie sinies. Ek is seker maar gekies vir die rol omdat hulle gesien het ék is self ook nogal ’n siniese ou,” vertel hy. “Mense beskryf Erik as ’n emo-kid, maar hy’s eintlik net diep. In die eerste bedryf praat ek omtrent nét in filosofiese aanhalings, soos van Plato.”

Jan-Beyers speel teenoor Van Wyk Loots, wat die rol van sy ma vertolk.

“Sy is baie veelsydig,” sê hy. “Sy en die ander akteurs het ons jonges net soos professionele akteurs behandel.”

Vir Llewellyn was dit ’n belewenis om te sien hoe iemand soos Bam al met die eerste lees van die teks in sy karakter se vel klim.En Anneke beaam: “Ek het Anna-Mart vooraf op ’n troontjie gesit. Maar toe begin ons saamwerk, en vir hulle is ons nie skoolkinders nie.”

Die jong akteurs, wat verlede maand drie weke gerepeteer en in Stellenbosse koshuise gewoon het, het die interaksie met mekaar ook baie geniet.

“Die samewerking was interessant, want ons is anderste mense uit anderste agtergronde,” sê Annake. Dit was vir Llewellyn opvallend dat hoewel die groep so uiteenlopend was, hulle dadelik gekliek het.

“Dit bubble-bubble omtrent so!”

Die akteurs is dié week weer saam op Stellenbosch om te repeteer vir hul optrede die naweek.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur