DIE GROOT LOOPBAANBESLUIT Mart-Marié van den Berg
2013-01-28 01:00
getty images/ istock photo

Oorweeg jy ’n loopbaan as ruimtevaarder? Dink dalk twee keer as jy wiskunde en natuur- en skeikunde verpes.

Die groot loopbaanbesluit

 

Die “werk” wat vir die meeste Suid-Afrikaners tussen 14 en 23 jaar die aanloklikste lyk, is glo om ’n CEO te wees.

Die probleem is dit beteken ’n hele paar treetjies op die loopbaanleer word oorgeslaan.

Dit is maklik om oor die ideale loopbaan te dagdroom, maar kenners maan dat jy realisties moet wees oor die gaping tussen jou vermoë en jou belangstelling. Dié faktore speel die grootste rol in die keuses wat jy moet maak. JIP het dr. Illana Janse van Rensburg, ’n voorligtingsielkundige, hieroor uitgevra:

 

Hoe weet ek of ek die regte beroep in gedagte het?

“Wanneer jy aan ’n beroep dink, is dit dikwels onbewustelik gekoppel aan jou waardes. Dit beteken sommige mense sal ’n beroep kies oor die geld wat hulle gaan verdien, en ander gaan ’n beroep kies oor die sekuriteit wat hulle voel dit hulle gaan bied.”

Baie jong mense kies beroepe na aanleiding van vakke wat hulle op skool geniet. As jy wil weet of dit die regte keuse is, is daar twee vrae waarop jy ‘ja’ moet antwoord:

- Geniet ek wat ek doen?

- Doen ek dit goed?”

 

Hoe gemaak as ek ’n dokter wil word, maar my punte is te laag?

“Ongelukkig berus basiese keuring op die uitslae. As jou punte te laag is vir jou eerste keuse, moet jy ’n plan B hê om op terug te val. Probeer om ander opsies in dieselfde veld te ondersoek wat dieselfde werkbevrediging sal meebring, maar waarvan die akademiese vereistes laer is.

“As jy nie vir medies gekeur kan word nie, kan jy dit oorweeg om ’n paramedikus te word. Gesels ook met mense in ander beroepe in die mediese veld om te kyk of iets anders nie jou aandag trek nie.”

Moet my vermoë by my passie en belangstelling pas?

“Baie mense se passie vir ’n loopbaan stem dikwels nie ooreen met hul vermoëns nie. Iemand wat op skool bogemiddeld presteer, vind dit soms moeilik om haar passie te vind omdat sy akademies in staat is om in die meeste rigtings te kan studeer.

“Dié studente word ook dikwels gekritiseer as hulle nie byvoorbeeld medies of ingenieurswese gaan studeer nie, omdat hulle ‘soveel meer potensiaal het’. Die feit bly staan dat hulle dalk net nie in daardie rigtings belangstel nie. Jou keuses is beslis meer beperk as jou punte nie so goed is nieXmaar daar is baie uiteenlopende kursusse wat jy kán volg. Doen deeglike navorsing.”

Waar kry ek raad oor die regte beroep vir my?

“Jou loopbaankeuse begin eintlik al lank voordat jy moet vakke kies. Daar is inligting op die internet beskikbaar, veral op universiteite se webtuistes. Praat ook met die mense wat jou skool besoek en met jou voorligtingonderwyser. Dit is ook ’n goeie idee om universiteite se ope dae by te woon. Daar kan jy al die vrae stel wat jy het en gesels met studente wat studeer in die rigting waarin jy belangstel.”

 

Wat van psigometriese toetse?

“’n Geregistreerde sielkundige kan jou met loopbaanvoorligting help sodat jy ’n akkurater beeld oor jouself kan kry. Die psigometriese toetse help jou en jou ouers om ’n holistiese beeld te vorm oor jouself en die opsies wat beskikbaar is.”

Die antwoorde op die volgende vrae sal daar beantwoord word:

- Wie is ek?

- Waarvan hou ek?

- Hoe lyk my persoonlikheid?

- Wat is my vermoëns?”

 

Hoe weet ek of die opsies wat dié toetse identifiseer, vir my is?

“Vakansiewerk (of job-shadow-ing) is ’n goeie opsie as jy nie seker is of jou droomberoep regtig vir jou is nie. Dan ervaar jy die werklikheid, en dis nie noodwendig dieselfde as in jou drome nie. Hoe meer inligting jy oor jou verskeie beroepsmoontlikhede insamel, hoe makliker gaan jy jou besluit kan neem.”

 

Is passie en belangstelling genoeg om van enige loopbaan ’n sukses te maak?

“Passie en belangstelling tesame met harde werk en deursettingsvermoë help ’n persoon om suksesvol te wees in ’n beroep. Indien jy ál die boekekennis en vaardighede het, maar jy stel nie belang nie, sal jy waarskynlik nie gelukkig in jou werk wees nie. Jou vermoë is steeds belangrik, maar onthou, passie en harde werk speel ’n deurslaggewende rol in jou sukses.”

 

Is dit goed om meer as een beroep te oorweeg?

“Baie leerders het gewoonlik meer as een loopbaan in gedagte. Dit is ander in dieselfde veld of soms uiteenlopend van aard. Dit is altyd goed om ’n plan B te hê, aangesien jou punte, finansies en ander omstandighede dalk jou eerste opsie kan kelder. Die teleurstelling oor die verandering is dan ook nie so groot nie, aangesien die ander plan reeds bespreek was.”

 

Ek is in gr. 11 en is steeds nie seker wat ek eendag wil doen nie. Help!

“Die keuse van ’n loopbaan is soms moeilik. Nie almal weet al van gr. 8 af watter beroep hulle eendag wil beoefen nie. Wanneer vakkeuses in gr. 9 gemaak word, word die realiteit van ’n naderende keuse net groter. Nie almal is egter al reg om te besluit wat hulle wil studeer as die tyd daarvoor aanbreek nie. Hulle kan gerus aanklop vir psigometriese toetse of loopbaanvoorligting.”

 

Maar wat as níks vir my reg lyk nie?

“Daar is baie opsies beskikbaar vir diegene wat nie ’n keuse kan maak nie: ’n gap-jaar, skadu- of vrywilligerswerk by ’n liefdadigheidsorganisasie of ’n oorbruggingsjaar met ’n doelgerigte plan. In ’n gap-jaar kan jy korter kursusse volg, of werk in ’n veld waarin jy belangstel.”

 

Dink ook hieraan

Ondersoek só enige kursus wat jy oorweeg deeglik:

- Is die kursus en instelling geakkrediteer? Stel dít vas voordat jy die studiegeld betaal en iemand verdwyn daarmee. Daar is veral dié tyd van die jaar talle dodgy “instellings” wat studente ’n rat voor die oë draai.

- ’n Kursus wat te algemeen is, gaan jou nie onderskei van die res van die werkmag nie.

- Vul jou basiese kwalifikasies aan met kort kursusse en maak só seker dat jy die beste (en bes gekwalifiseerde) persoon vir ’n pos is.

- Al entrepreneurskap oorweeg? Groot maatskappye neem al hoe minder mense in diens en meer werk word aan buitemense uitgekontrakteer. Hier speel entrepreneurskap ’n groot rol. Vind ’n gaping in die mark en fokus daarop.

 

Van skrywer tot musikant

Ons het Jippers gevra wat hul droomberoep is; die een beroep wat hulle sou kies as geld, stabiliteit, aanleg en hul ouers se menings nie ’n faktor was nie.

Hier is ’n paar van die antwoorde:

Ané Neethling: “Ek sou graag ’n skrywer wou word.”

Simone Rautenbach:“Mode-ontwerper.”

Thinus Viljoen:“Ek sou wou sing en toneelspeel.”

Mia Eksteen: “’n Reisende musikant.”

Johan Ruan Luus:“Hardcore-joernalis.”

Reghardt Kotzé:“Definitief ’n muso! Sal nie eens daaroor dink nie;ek sal eenvoudig my droom volg!”

Zhane Nel: “Helikoptervlieënier.”

Heleen Scott:“’n Verpleegster in oorsese lande wat deur rampe getref is. Om vir daai mense basiese, mediese sorg te kan gee sal lekker wees.”

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur