GAAN REIS DIE WÊRELD VOL TERWYL JY KAN Leon van der Vyfer
2013-01-28 01:00

Gaan reis die wêreld vol terwyl jy kan

 

Die glasdeure gly geluidloos oop en jy word begroet deur ’n muur van gedruis. Die klikketie-klakketie van wieletjie-tasse wat oor die enorme vloer gesleep word, die onderlangse besprekings tussen opgewonde reisigers, die afkondigings. Welkom by enige lughawe in die wêreld.

’n Lughawe is ongetwyfeld my gunstelingplek op aarde. Dit is eintlik ’n wêreld op sy eie - ’n perfekte klein wêreldjie waar alles nuut, modern en net van die beste is. Die restaurante, winkeltjies, waglokale is almal afgesonder van die wêreld daarbuite en jy glip weg in die euforie sodra jy deur die deure loop. Die mense is net so interessant soos die plek: Party hartseer, party nostalgies, party opgewonde oor wat voorlê. Ander lyk totaal selfversekerd. Elkeen op sy eie missie. Jy besef stilletjies dat jy ook deel van dié groep wil wees, die reisigers na nuwe plekke. Jy wil ook jou bagasie gaan inboek en met daardie alles-belowende kaartjie na die vertreksaal stap. Ek wonder altyd waarheen almal op pad is. Ek begin stories uitdink van eksotiese lande wat jy besoek, vreemde tale wat jy hoor en herinneringe wat gevorm gaan word, sodat dit later weer herroep kan word om jou weer duisende kilometers terug te voer.

As jy saans op ’n lughawe is, voel dit of jy in ’n kokon vasgevang is. En terwyl jy daar staan en deur die glasvensters uitkyk, sien jy hoe vliegtuig ná vliegtuig die koel naglug invaar na alle uithoeke van die wêreld. En agter die glasvensters in die perfekte klein wêreldjie wonder jy stilletjies of jy nie maar ook op een van daardie vliegtuie kon gewees het nie, want soos die Pulitzer-fiksiewenner Jhumpa Lahiri gesê het: “Jy is steeds jonk, vry. Doen jouself ’n guns. Voordat dit te laat is, sonder om eers te lank daaroor te dink, pak ’n kussing en ’n kombers en sien soveel van die wêreld as wat jy kan. Jy sal dit nie berou nie. Eendag sal dit te laat wees.”

- Leon is ’n JJ.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur