HOEKOM JOU MA EN PA JOU ÉÍNTLIK WOU HÊ Derick van der Walt
2013-01-25 01:00

Hoekom jou ma en pa jou éíntlik wou hê 



Jy weet darem nou al dat die ooievaar jou op Mamma en Pappa se stoep kom aflaai het, met daai cute pienk/blou strikkie om die nek. (As swart en groen jou ding is: Dis net 'n ooievaar, onthou, en dis nie waaroor hierdie storie gaan nie.) Maar soos hulle op goeie Afrikaans sê: Don't judge a book by its cover. Daai ooievaar het sy kant gebring in hierdie lewe. Baie mammies en pappies was al baie dankbaar omdat hulle toe daai enetjie gekry het wat weet van remotes (soos hulle natuurlik gehoop het).  

      Hierdie storie begin só: Die dag toe ek besluit het om met tannie K te trou (as jy dink die "K" staan vir "kwaai" is jy natuurlik verkeerd), was toe sy daai dag my Volksie se pap band omgeruil het. ('n Volksie is 'n kar en dis voor jou tyd. Google, man.) Sy was toe nog my meisie en sy het die jack uit die kar se bonnet gepluk (ja, 'n volksie s'n sit daar) en voordat ek nog kon vra: Kan ek help?, was alles verby. (Jy kan maar jou oë rol. Daar is baie ander goed wat ék goed kan doen. Kan jy 14 uur aanmekaar slaap sonder om een keer op te staan om te gaan piepie? I rest my case.) Maar ek het geweet. Dis my trouvrou, want sy gaan eendag daai remotes in ons lewe manage.

      Maar 'n pap wiel en 'n remote lewe toe nie op dieselfde bladsy nie. Daai tannie kan na jare steeds nie eers die voorkant of die onderkant of die agterkant van 'n remote ontsyfer nie, al kan sy 'n jack vinnig uit 'n kar se bak pluk. (Ek het mos gesê ek kan ander dinge doen.)
     Dis toe dat ek besluit het ons moet drie kinders hê. Net een sou nie werk nie. Hy of sy sou dalk na tannie K aard en ek hoef seker nie iets verder te sê nie. Die volgende een sou dalk na my aard en my rekord van 14 uur aanmekaar slaap bedreig. Ek hou nie van kompetisie nie. Vir veiligheid moes daar toe ten minste drie wees. Volgens die wet van gemiddeldes moes íémand darem min of meer remoterig wees.

     Toe kom Eks, Why and Zee. (Geen name natuurlik nie. Hulle het gedreig om my in Huis Sussana Steenkamp te plaas as ek oud is, waar 'n mens glo net een nederige ete per dag kry. Ek hou baie van eet, so ek hou my in.) En daar word ons toe geseën met drie seuns wat almal min of meer remoterig is (en hulle kan almal langer as 14 uur aanmekaar slaap! Doen dit gereeld).

      Ons het ook twee Jack Russel-hondjies: Bakkies Botha van der Walt en Jessie Victoria Matfield van der Walt. Jessie het gou agtergekom tannie K bond nie sommer met oulike dogtertjiehondjies nie (nie tyd vir nonsens nie en die "k" staan níé vir kwaai nie), en van toe af is Jessie deel van die ramkamp. Sy voel veilig by ons, maar ek kyk haar só. Sy is nou nie heeltemaal seker of sy 'n dogtertjiehond of 'n seuntjiehond moet wees nie. Dan sê ek vir haar: Jessie, my ou dogtertjie/seuntjie: Whatever works for you. Kom ons kyk TV.  Is hier 'n remote operator iewers?

     Maar dit werk só in ons huis. Ons het net een televisie en een DVD-speler (niks van PVR en sulke goed nie), maar ons het vyf remotes. Search me. Eks, Why and Zee het al verduidelik dat die spoeg spat. Tot al vir my en tannie K (ook bekend as tannie Wiel) lysies gemaak en dit teen die TV geplak. Jy sit eers die TV aan en dán... en dán... Sorry, we just don't get it.

     So, ons bel hulle nou as hulle saans by Aandklas in Hatfield is. (Hulle swot darem seker daar, né?) Dan moet een van hulle al die pad huis toe ry om vir ons 'n DVD te kom opsit sodat ons 'n fliek kan kyk.

      En na al die drama om die DVD aan die gang te kry, is daai fliek boring verby.  Ek en Bakkies en Jessie sit styf in een hoek op die bank (dis nie dat ons bangerig vir tannie K is nie) en tannie K sit met 'n lang lip daar ver in die ander hoek. Tannie K slaap dan binne vyf minute (en sy snork, soos in erg.) Dan sluip ek en Bakkies en Jessie kombuis toe en proe so effens aan tannie K se droëwors (wat sy wegsteek). Ja, toe, ek weet droëwors is sleg vir honde. Jy recycle seker ook, eet organiese Post Toasties en dink world peace is net om die draai omdat jy elke keer al jou pampoen op eet. (Get a life.)

     Bottom line: As jou ouers vir jou vertel jy is op hierdie aarde omdat hulle die nageslag wou voortsit, hulle liefde wou verewig, hulle goeie gene wou sien voortleef, of hulle drome (waarvoor hulle te lui was) deur jou verwesenlik te sien, moenie so seker wees nie. Jy glo darem seker ook nie meer aan die Tandmuis en Krismisvader nie?
   Dus: Eet nou jou vyf porsies groente en vrugte elke dag, doen jou huiswerk, moenie substansiële substansies gebruik nie, bly weg van volksvreemde goed op die Internet, was die skottelgoed vir jou ma en sny die gras vir jou pa. Dit was vir hulle 'n stryd om jou in een stuk tot hier te kry om vir hulle die remote-ding te doen.
Loop mooi vir nou.

Oom

Wie's Derick?
Derick van der Walt is ’n jeugboekskrywer wat al ’n paar pryse ingepalm het en glo tieners is mense met wie jy moet praat soos met enigiemand anders. Van sy boeke sluit  Willem Poprok, Tafelberg (2010), Lien se lankstaanskoene, Tafelberg (2008) en meer onlangs Hoopvol (Tafelberg) in. Hy het die Silwerprys vir Sanlamjeuglektuur (2011) vir dié fantastiese boek (wat JIP kan aanbeveel!) gewen. Kyk na die lusmaker vir Hoopvol hier: http://www.youtube.com/watch?v=falXcKgLHrw

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur

Charl van Rooyen

2013-01-30 16:21

En ek kan bevestig Derick kan ook olifant ry. Ons het dit vanoggend by Sun City gedoen. As ek geweet het hoe om 'n foto hier te plaas, sou julle hom in al sy glorie op Tannie (of Oom?) Ollie se rug kon aanskou.