HOPE DERMS, MAAR MIN VERRASSINGS Rudolf Stehle
2013-01-22 01:00

Jamie Foxx as Django, ’n slaaf wat poog om sy vrou te red van die ongenaakbare plantasiebaas Calvin Candie (Leonardo DiCaprio), in Django Unchained.

Hope derms, maar min verrassings

Django Unchained
Western

Met Django Unchained sluit die Amerikaanse regisseur Quentin Tarantino hom aan by die tradisie van die sogenaamde spaghetti-western van die 1960’s, maar hy wyk ook in ’n belangrike opsig daarvan af.

In die Italiaanse weergawe van die western speel die held gewoonlik twee opponerende bendes teen mekaar af en uitoorlê hy albei met sy geslepenheid en wapenvaardigheid.

In Tarantino se weergawe is die held egter ’n 19de-eeuse slaaf wat op skouspelagtige wyse wraak neem teen sy onderdrukkers.

Die titel is ’n verwysing na Django (1966), ’n spaghetti-western met die Italianer Franco Nero in die titelrol.

Django is destyds beskou as een van die gewelddadigste rolprente wat tot op daardie stadium gemaak is en is tot 1993 in Brittanje verbied.

Tarantino het met sy vorige rolprente ’n reputasie gevestig as ’n regisseur met ’n voorliefde vir grafiese geweld en met Django Unchained doen hy dit gestand.

Lank laas het dié resensent soveel bloed in ’n rolprent sien spat.

Die rolprent vertel die verhaal van die slaaf Django (Jamie Foxx), wat deur dr. King Schultz (Christoph Waltz), ’n booswigjagter, gekoop word. Schultz vermoor gesoekte misdadigers op wie se kop daar ’n beloning is. Hy lei Django op as sy regterhand en saam laat hulle talle misdadigers in die stof byt.

Django oorreed Schultz om hom te help om sy vrou, Broomhilda, op te spoor.

Hulle stel vas dat sy besit word deur ’n welgestelde plantasie-eienaar van Mississippi, Calvin Candie (Leonardo DiCaprio), en bedink ’n plan om haar te bevry.

Met so ’n sterbelaaide rolverdeling is die verwagtinge hoog en die akteurs stel nie teleur nie.

Waltz lewer soos gewoonlik uitmuntende spel as die kil, uitgeslape dr. Schultz, terwyl Foxx die gedaantewisseling wat Django van slaaf tot booswigjagter tot kenner van die mandingo-gevegskuns ondergaan, oortuigend uitbeeld. Die interaksie tussen dié twee sorg vir talle humoristiese oomblikke wat in die gewelddadige konteks soms makaber aandoen.

DiCaprio is ewe indrukwekkend in die rol van die sjarmante, maar ongenaakbare plantasiebaas.

Ondanks die uitstekende karakterspel deur dié drie bevredig die geheel nie heeltemal nie.

Tarantino se oordadige beheptheid met bloed en derms is steurend en doen afbreek aan die narratief.

Baie opvallend is die prent se eklektiese klankbaan wat genres so uiteenlopend soos instrumentele musiek, folk en Amerikaanse rap tot komposisies deur die Argentyns-Italiaanse klankbaan-komponis Luis Enríquez Bacalov wat in die oorspronklike Django te hoor was, bestryk.

Hoewel interessant en soms skreeusnaaks, bots musiek en beeld dikwels en word die aandag dan van die verhaal na die musiek herlei.

Dié voorbehoude sal deur Tarantino-aanhangers met ’n knippie sout geneem word, aangesien hy sinoniem is met oordaad en eksperiment. Die prent bied hope aksie in die bestek van 165 minute, maar min verrassings.

Met Jamie Foxx, Leonardo DiCaprio, Christoph Waltz en ander
Regie: Quentin Tarantino
Tydsduur: 165 minute
Ouderdomsperk: 16TG

Kitsfeite

- Quentin Tarantino het die rol van ­Django geskryf met Will Smith in gedagte, maar Smith het dit van die hand gewys.

- Idris Elba, Chris Tucker, Terrence Howard, Michael Kenneth Williams en Tyrese Gibson is toe vir die rol van Django oorweeg voordat Tarantino dit aan Jamie Foxx aangebied en hy dit aanvaar het.

- Foxx het sy eie perd, Cheetah, in die fliek gebruik.

- Dit is die tweede keer dat Foxx en Kerry Washington ’n getroude paartjie speel. Hulle het voorheen Ray Charles en Della Bea Robinson in Ray gespeel.

- Dit is die vyfde keer dat Tarantino en Samuel L. Jackson saamwerk. Van hul vorige flieks sluit Pulp Fiction en Inglourious Basterds in.

- Die fliek is oor 130 dae verfilm.

- Lady Gaga is oorweeg vir die rol van Lara Lee Candie Fitzwilly.

- In die toneel waarin Leonardo DiCaprio se karakter met sy handpalm op ’n etenstafel slaan, het die akteur ’n glas onder sy hand gebreek, maar dit geïgnoreer, in karakter gebly en met die toneel voortgegaan. Dit is net so in die fliek gebruik.

- Die fliek het twee Golden Globes gekry en is vir vyf Oscars benoem.

Bron: IMDb.com

Ander mening
Bill Goodykoontz, Arizona Republic: Die titel van die fliek is Django Unchained, maar vir alle praktiese doeleindes kon dit netso wel Tarantino Unleashed gewees het.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur