BOLAND SE O.17-KRIEKETMANNE KOOK Kobus Pretorius
2013-01-21 01:00
Thinkstock

Boland se o.17-krieketmanne kook

KAAPSTAD. Die Boland het uitstekend gevaar in die nasionale krieketweek vir o.17-spanne verlede maand in Kaapstad.

Die Wynlanders het in vier van hul ses wedstryde aan die wenkant geëindig, maar die Suidwestelike Distrikte kon net in twee wedstryde oorwinnings behaal, terwyl die WP slegs ’n enkele oorwinning op sy kerfstok kon plaas.

Die Boland (138) het weggespring met ’n maklike oorwinning oor Zimbabwe (72) ná goeie bydraes deur Marc Cilliers (49), Curt Olivier (3/1) en Arnold Scholtz (3/15), maar was met sy 101/9 gelukkig om weg te kom met ’n onbesliste uitslag teen Gauteng (180), terwyl net Schoeman Botha (3/22) en Georon Claasen (29*) hul sout werd was.

Die manne van die Wynlandstreek het egter hierna in albei hul twintig20-wedstryde koning gekraai deur die Vrystaat (67) goedkoop uit te haal en met 118 lopies geseëvier en toe Noordwes (102) met 4 paaltjies geklop. Scholtz se 129 lopies teen die Vrystaat het vyf sesse en 17 grenshoue ingesluit, terwyl Devon Smith 3/18 ingeoes het. Teen Noordwes was Warren Stoman (3/14) en Botha (3/19) die uitblinkers.

Op dag vier het die Boland (177) met 27 lopies teen Noord-Gauteng (204/5) vasgeval ondanks Cilliers (64) se hardnekkige kolfwerk. Maar toe ruk die Boland (183) hom weer pragtig reg in sy laaste wedstryd teen die Oostelike Provinsie (124) met behulp van stewige bydraes deur Niel Botha (51), Cilliers (49), Schoeman Botha (3/26) en Scholtz (3/30).

 

Die SWD (150) het begin met ’n oorwinning oor Griekwas (110) danksy die boulwerk van Richard Maree (4/20) en Brendon Olivier (3/16), maar het toe met sy 157 lopies teen Grens (180) verloor.

Die Suid-Kaaplanders het met hul 112/7 in hul eerste twintig20-wedstryd gelykop gespeel teen Limpopo, maar moes toe in die valbyl-boulbeurt bes gee. Elden Rossouw (4/13) en Roann Bekker (50) was die SWD-staatmakers. Noord-Gauteng (156/6) was in die tweede twintig20-wedstryd ook te sterk vir die SWD (102/4) ondanks knap bydraes deur Jacques Campher (3/19), Thomas Marrow (40) en Drickus Visagie (37).

Marrow (61) was hierna die steunpilaar in die SWD (159/9) se oorwinning met een paaltjie oor KZN-Binneland, maar in die laaste wedstryd is die SWD (146) deur die Vrystaat (147/4) in sy spore gestuit. Olivier (47*) en Errol Martin (33) het die beste met die kolf gevaar.

 

Vir die WP kon die toernooi beswaarlik op ’n laer noot begin toe die Kaapse gasheerspan vir net 85 lopies deur die Vrystaat uitgehaal is. Die Vrystaat het met 149/9 geantwoord, met Jason Fourie (3/16) die tuisspan se beste bouler. Die WP (178) was ook in sy tweede (onbesliste) wedstryd teen die OP (162/5) duidelik op pad na ’n nederlaag. Matthew Christensen (68) was die enigste WP-man wat hond haaraf kon maak.

Dag drie het ewe vrot begin toe die Kapenaars (110/8) in hul eerste twintig20-kragmeting teen Noordwes (111/5) in die hek geduik het, maar toe kom hulle tot verhaal en klop Oos-Gauteng (100) met 4 paaltjies, met behulp van veral Riaz Sader (4/12), Yolisa Mona (3/16) en Nicki Zeeman (35).

In sy eerste wedstryd oor 50 boulbeurte is die WP (130) deur Mpumalanga (154) verneder nadat Chad Johnson (3/6) en Lyle Rogers (3/25) se goeie boulwerk nie deur die WP se kolwers opgevolg is nie.

In die laaste wedstryd is die WP (177/9) naelskraap met twee paaltjies deur KwaZulu-Natal geklop. Sader (33*) en Kay Skovgaard-Petersen (4/24) het die beste vertoon.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur