LEKKER ONOPGESMUK Liandri Pretorius
2013-01-21 01:00
Henrik Hviid

Peachy Keen is ’n band van Kaapstad met ’n ouwêreldse styl en ’n vars klank. Agter die stuur sit Dominique Otto, die groep se sanger en ritmekitaarspeler, en langs haar is Alex Wise, wat sing en klawerbord speel.

Lekker onopgesmuk

 

Hoe maak ’n mens ’n “Peachy Keen”? Volgens die Kaapstadse rockabilly-groep met hierdie vrolike naam en sy country-, pop-, blues- en rock-kinkels werk dit só:

“Meng twee meisies en drie ouens. Voeg twee kitare, ’n klawerbord, double bass en ’n stel tromme by en meng totdat die tekstuur onopgesmuk en lekker is. Voeg dan ’n goeie skoot vibes, baie energie en gesonde respek vir Johnny Cash by en klits drie minute liggies. Kook teen 30C in die Afrika-son en geniet dit!”

 

JIP het probeer vasstel waar dié yummyband sy inspirasie vandaan kry.

 

Na watter soort musiek het julle geluister toe julle jonger was?

 

Alex: “My ouers het van ougoed gehou. My eerste herinnering is van ’n Nina Simone-plaat. The Beach Boys, Muddy Waters, Johnny Cash, The Beatles, The Eagles...

“Namate ek ouer geword het, het ek baie begin belangstel in ska en punk, Rancid, NOFX, Mad Caddies en The Specials.”

Brandon: “Ek het van verskeidenheid gehou! Dit het begin toe ek Ace of Base op die radio opgeneem het. Toe ek 11 was, het ’n kind in die skool vir my ’n kasset gegee met Green Day, Offspring en Metallica daarop. Ek dink die liedjie ‘Bad Habit’ het my hele lewe verander. Later in die hoërskool het ek na alles van Blink 182, NOFX, MxPx, Lagwagon and Pennywise tot Nirvana, Megadeath, Incubus, Smashing Pumpkins en Rage Against The Machine geluister.”

 

Wie of wat inspireer julle?

 

Alex: “Musiek inspireer my. Dit is wat my aan die gang gehou het deur moeilike tye en my altyd positief en dieselfde laat bly het. En natuurlik die somer en goeie vriende!”

Brandon: “Dit klink dalk soos ’n cliché, maar die liefde X veral goeie vibes wat jy vir ander kan stuur. Die lewe met al sy ups en downs is altyd die grootste inspirasie vir enige kunstenaar.”

 

Jy doen baie van die groep se skryfwerk, Alex. Kry jy ooit skrywersblok?

 

Alex:“Dit gebeur met die beste onder ons. Dit kan rof wees. Ek probeer dus om nie daarop te fokus nie; dit maak dit net erger. Dan luister ek na my gunsteling-musiek vir inspirasie. Ek probeer ook om nuwe musiek uit te snuffel. Ek sal byvoorbeeld ‘blue grass swing’ google en dan afkom op hope nuwe bands wat vir my vars idees gee.”

 

Wat doen julle in jul vrye tyd?

 

Alex: “My lewe in ’n paar woorde: vriende, tatoeëermerke en musiek! In my vrye tyd werk ek, want my werk ís awesome. Ek organiseer musiektoere- en optredes. En wie geniet dit dan nie om op die strand te gaan stap nie?”

Brandon:“Wat is dít? Ek werk voltyds en ek swot regte deur Unisa. Wanneer ek wel tyd het, gaan ek na optredes, kuier saam met my pelle, kyk televisiereekse en flieks, kry tatoeëermerke en bring tyd deur saam met my verloofde.”

 

Waaroor sou jul aanhangers verbaas wees as hulle dit van julle moet agterkom?

 

Alex:“Ek het vier jaar lank branderplank gery en trompet in ’n ska-band gespeel toe ek 14 was. Toe ek in ’n Rasta-reggae-band gespeel het, het ek dreadlocks gehad - dis waar!”

Brandon:“Toe ek 23 was, het ek musiek ’n jaar lank gelos in ’n poging om ’n ortodokse Jood te word ter wille van ’n meisie. Dit het nie uitgewerk nie, ouens. Ek was ook nogal ’n bobaas-skaakspeler op tien - die beste in die Durban-gebied of so iets.

“En my party trick is om ’n hele piesang te eet, die hele piesang, skil en al. Buiten dat dit mense óf beïndruk óf walg, is dit ’n uitstekende bron van kalium.”

 

Wanneer het jy besef jy wil ’n musikant wees?

 

Alex: “By geboorte! Ek het nog altyd geweet ek is daarvoor bestem. Familie en vriende het gesê dit is nie ’n loopbaan nie, maar dit het my nooit ondergekry nie. Dit was ’n moeilike pad, maar met harde werk en passie is dit heeltemal moontlik.”

Brandon: “Toe ek besef het dat ek die res van my lewe arm wil wees.

“Nee, ernstig, ’n loopbaan in musiek soos ek daarvan gedroom het, is glad nie soos die werklikheid nie. Nadat ek Blink 182: The Urethra Chronicles gekyk het toe ek 15 was, het om in ’n band te speel gelyk soos die grootste pret wat jy kan hê, en ek wou daarvan deel wees.

“Musiek is egter nie my enigste doelwit in terme van my loopbaan nie, al droom ek van groter, beter shows en om nuwe liedjies saam met die band aanmekaar te sit en op te neem.”

  

Julle is bekend vir jul funky modes en 50’s-styl. Vertel meer.

 

Alex: “Ons het ’n groot liefde vir die 1950’s-pin-up- mode en -musiek, en het gedink dit sal baie cool wees om hoë hakke en rooi lipstiffie te dra vir ons optredes.

“Voorkoms is altyd belangrik; en wanneer ons optree, doen ons moeite. Maar op ’n doodgewone dag sal jy ons waarskynlik nie sien in hakke en rompe wat tot by die middel kom nie.”

 

Wat is Peachy Keen se toekomsplanne?

 

Alex:“Wêreldoorheersing! Toere, om ons liedjies op die radio te hoor, om vanjaar ’n vollengte-album die lig te laat sien en nóg musiekvideo’s is ook op die spyskaart. Ons sal graag deel wil wees van die Warped Tour in Amerika of ten minste in Amerika of Japan wil optree binne die volgende twee jaar.”

 

’n Soen vir jou?

Peachy Keen se eerste EP, Backseat Bingo, is verlede jaar bekend gestel.Die titel is afgelei van ’n sêding uit die 50’s, wat beteken om te soen op die agterste sitplek. Lees meer oor hulle op hulle Facebook-blad.

 

Dís Rockabilly

 

Peachy Keen definieer hulself as Kaapstad se antwoord op die vraag “Wat sal ons red van al hierdie vreeslike Indie-musiek en al die Bellville-bands wat oorneem?”

Hulle musiekgenre is ’n nuwigheid hier en al het hulle niks teen bands van Bellville of indie-musiek nie, glo hulle dit is nodig om vir almal se musieksmaak plek te maak.

Rockabilly word beskryf as ’n musiekstyl wat in die 1950’s en 1960’s in die suide van Amerika ontstaan het. Musiekresensente het die naam uitgedink om te verwys na die “hilbillies” wat die rock ’n roll-musiek maak. Dis ’n intense, ritme-gedrewe musiekstyl wat deur Elvis Presley se eerste albums gewild gemaak is.

 

Bron: indiedoesit.co.za en britannica.com

 

Peachy keen is:

 

Dominique Otto sing en speel ritmekitaar.

 

Alex Wise slaan die klawers en sing.

 

Ryan McArthur speel baskitaar.

 

Greg Abrahams tokkel die hoofkitaar.

 

Brandon Shore slaan die tromme.

 

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur