HOEVEEL TYD IS DAAR NOG? Peter Pentz
2013-01-21 01:00

Hoeveel tyd is daar nog?


Iemand sê nou die dag jou eerste jaar op universiteit is soos ’n duur jaar lange vakansie. Want in jou eerste jaar is jy nie noodwendig seker of jy eers wil aangaan met die spesifieke kursus nie, al betaal jou ouers maar terwyl jy die studentelewe geniet.

Aan die einde van jou eerste jaar besef jy maar dit is nou nie eintlik wat jy wil doen nie en skop op, of verander van kursus.

Ek staan nou aan die begin van gr.11 en ek weet self nie wat ek ná skool wil gaan studeer nie. Ek weet nie of ek joernalistiek, bemarking of selfs regte moet aandurf nie.

Mense sê gedurig: “Daar is nog genoeg tyd om te besluit.” Maar wat gebeur as daardie tyd uitloop en jy nog nie ’n besluit geneem het nie?

Daar is soveel leerders wat aan die einde van hulle matriekjaar kom en nie weet watter rigting om in te slaan nie. Aanlegtoetse sê politieke wetenskappe is die rigting vir jou, maar dan het jy nie eers ’n vaagste benul wat in die politiek aangaan nie.

Ek dink ouers plaas ook baie druk op kinders, want daar móét mos nou ’n dokter of ’n prokureur in die familie wees en ouboet sal maar móét aangaan met die familieonderneming, want pa en oupa doen dit dan al jare lank.

Dan is daar nog die vraag of ek enigsins hoef te gaan swot direk na skool? Wat van ’n gap jaar?

Dit is ’n moeilike besluit en een wat nie sommer oor ’n koppie koffie geneem kan word nie.

Word daar genoeg gedoen om leerders bewus te maak van al die moontlikhede in terme van die lewe ná matriek?

Wat is die vereistes om ’n sekere kursus te loop? Moet ek aangaan met wiskunde as ek nie wiskunde nodig het nie?

Dié jaar gaan ek werk maak daarvan om uit te vind wat ek alles na skool kan gaan doen! Ure op die universiteite se webtuistes is my voorland en ek gaan ’n bietjie shadowing by maatskappye doen. ’n Slim en wyse ou het eenkeer gesê die moeilikheid met geleenthede is dat dit altyd soos harde werk lyk!

 

- Peter Pentz is ’n JJ. Hy is vanjaar in gr.11 aan die Hoër Jongenskool Paarl.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur