BLINK MAAR STINK VOORT Aldu Duminy
2013-01-14 01:00

Blink maar stink voort

Dit sal verkeerd wees om nog terug te kyk op 2012.Ons het immers die jaar op ’n omgewingsvriendelike manier afgesluit: klappers in die lug, alkoholbottels in die seesand en ’n knou vir die biodiversiteit van die aarde met ons onversadigbare eetlus in die feestyd.

Nou moet ons vorentoe kyk en ons gereedmaak vir wat 2013 kan inhou.

Ons sal eerste ’n nuwe einde vir die wêreld moet voorspel - daar ís immers grotbewoners met ’n blikvoorraad iewers in die Drakensberge wat vir die groot knal wag.

Volgens my (ek is net só gesaghebbend) is die moontlikheid vir die “nuwe” einde van die wêreld 13 Desember 2013.

Dit maak sin dat ons op Vrydag die 13de deur buiteruimse kreature aangeval sal word. Skaf eerder wapens teen ruimtewesens aan in plaas van baked beans vir daai dag.

Die kerke se torings sal ook ’n nuwe koers moet inslaan.

Noudat die “bose” musiekster Lady Gaga klaar besoek afgelê het aan Suid-Afrika, sal hulle iets anders moet doen as vertoë rig en optogte reël oor dié tipe ding.

Kerkleiers se oë sal oopgaan, en hulle sal begin bid oor dinge waaroor hulle regtig bekommerd moes wees, soos gesinsgeweld.

Nuwe modegiere sal nog verder terugbeweeg in die verlede. Middelklasgesinne gaan besef modes herhaal hulself maar net namate die tyd aanstap.

Trotse moeders en vaders gaan hul bloese en denims met motbolle in sakke begin toedraai en dit aan hul kleinkinders bemaak.

Die Suid-Afrikaansevermaaklikheidsbedryf sal voortstu en ’n magdom nuwe sterre oplewer.

Dit sal nog altyd dieselfde akteurs wees in flieks en op Huisgenoot se voorblad. Daar sal weer ’n paar musicals aan ons opgedis word, maar platvloerse, vulgêre komedies sal (weer) hoogty vier. Ons sal deur die buiteland geken word as ’n onder-die-belt-nasie weens dié bedryf.

Ons sal ook vanjaar as ’n gemeenskap die erns van aardverwarming besef en optogte reël teen die gebruik van enige spuitblikkies.

Die insekbevolking gaan uitkring (en as uiteindelike voedselbron dien), en ons sal almal na sweet stink ten bate van die bome in die Amasone.

Die toekoms ruik dus stink, maar dit lyk blink.

- Aldu is ’n eerstejaar aan die Universiteit Stellenbosch.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur

2013-01-15 11:11

Goeie Skryf Werk !