ÁLMAL KRUIP IN JOU HART... Mariana Malan
2013-01-08 01:00

Jennifer Lawrence en Bradley Cooper inThe Silver Linings Playbook.

Álmal kruip in jou hart...

The Silver Linings Playbook
Romanse

In Engels klink dit beter: “Two wrongs do not make a right.” Maar in enige taal kan ’n mens wonder of die twee mees onvanpaste mense saam iets reg sal kan doen.

Dis nou nie eens ’n geval van uiterstes wat mekaar aantrek nie. Pat (Bradley Cooper) en Tiffany (Jennifer Lawrence) is twee ewe ontspoorde siele wat net mooi niks goeds vir mekaar voorspel nie.

Pat se lewe het lelik skeefgeloop. Hy het sy werk, huis en vrou verloor weens heftige woede-uitbarstings wat hy nie kan beheer nie. Die kyker leer hom ken wanneer sy ma hom by die inrigting gaan oplaai waar hy behandeling ontvang het. Hy gaan terug na sy ouerhuis.

Hy glo hy gaan sy vrou terugwen en sy lewe weer op koers kry.

Die kyker weet reeds as hulle sy betraande ma, Dolores (Jacki Weaver), sien en sy pa, Pat sr. (Robert DeNiro), in die oë kyk dat dit nie die plek is waar hy sy sinne gaan terugvind nie. Sy pa is ’n dobbelslaaf met ’n obsessie met die Philadelphia Eagles-voetbalspan. Sy idee van ’n pa-en-seun-verhouding is dat hulle onophoudelik saam na wedstryde op die televisie moet kyk.

Asof hierdie wanfunksionele deel van die gesin nie genoeg is nie, het Pat ’n broer met ’n perfekte werk, vrou, huis en baba. ’n Aandjie by hulle bring hom in aanraking met ’n ewe deurmekaar Tiffany, die weduwee van ’n polisieman. Sy is depressief en onbeskof, maar sien potensiaal in Pat.

Sy beloof om hom te help om sy vrou terug te wen as hy saam met haar aan ’n danskompetisie deelneem. Só vind die twee iets om te deel, begin mekaar se geselskap geniet en die danskompetisie bied aan pa Pat ’n nuwe geleentheid om geld op iets te verwed.

’n Mens weet nie presies wat Pat se probleem is nie. Soms word bipolariteit terloops genoem, maar sy woede-uit­bars­tings, waarvan ’n mens ’n paar in die rolprent beleef, laat jou wonder. Tiffany se probleem is dalk maar net dat sy liefde en aanvaarding soek.

Elke enkele karakter oortuig en kruip in jou hart. As indi­vidue en as ensemble word spel van die hoogste gehalte gelewer.

Pat en Tiffany se vriendskap, in allesbehalwe ’n ideale situasie, is boeiend, amusant en uitdagend. Soms wonder jy tog oor daardie twee foute wat nie saam ’n regte antwoord kan gee nie. Maar wat wou, dalk kan daar een silwer randjie om twee donker wolke vorm.

Met Bradley Cooper, ­Jennifer Lawrence, Robert DeNiro, Jacki Weaver en ander.
Regie: David O. Russel.
Tydsduur: 122 minute.
Ouderdoms-perk: 13TG.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur

Mieke

2013-02-09 10:46

Ek was mal oor hierdie fliek!! EK het gelag en gehuil en die akteurs was almal briljant!! dit verdien beslis al die toekenings en nominasies wat dit al ontvang het!!!