MOENIE DAT DIE TITEL JOU MISLEI NIE Laetitia Pople
2013-01-07 01:00

Rashida Jones en Andy Samberg in Celeste & Jesse Forever.

Moenie dat die titel jou mislei nie

Celeste & Jesse Forever
Romantiese komedie

’n Swarthumor-fliek waarvan die stroperige titel dalk net die verkeerde indruk wek. As jy dink dit is net die fliek vir ’n afspraakfliek, dink weer.

Die titel is ironies bedoel, want die rolprent is gewis nie besaai met seepbelle en spookasem nie.

Dit het met romanse eintlik niks te make nie. Hier is sprake van baie lag, maar net soveel trane.

Tog verras die fliek op ’n aangename wyse. Dit is nie die snuifgetrapte paadjie nie: Man en vrou ontmoet, word deur die een of ander misverstand geskei, misverstand word opgelos en alles bereik ’n klimaks voor die kansel.

Jesse (Andy Samberg) en Celeste (Rashida Jones) was getroud en is nou van bed en tafel geskei, maar is steeds dol oor mekaar. Hulle is steeds goeie vriende, skater vir mekaar se grappies en bring graag saam tyd deur. Kortom: Hulle praat dieselfde taal.

Tog kan hulle nie getroud bly nie en hul noue verbintenis maak dit moeilik vir nuwe metgeselle om nader te kom.

Die fliek se krag lê in sy skerpsinnige draaiboek (die veelsydige Jones het dit saam met Will McCormack geskryf) met sy raak waarnemings oor die wee van die liefde, maar veral die nadraai van ’n liefdesteleurstelling. Die fliek volg die laaste doodsnikke van die verhouding, hul pogings om weer liefde te vind op die afspraak-rondomtalie en hul uiteindelike berusting.

Celeste & Jesse Forever is ’n waagmoedige fliek vir die fliekfabriek wat jaarliks tientalle prente met winsgewende romantiese liefde opdis as die enigste moontlike voorbeeld van liefde tussen man en vrou.

Met Rashida Jones en Andy Samberg.
Ouderdomsperk: 13.
Tydsduur: 90 minute.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur