LEKKER, ONDANKS KORT CRUISE Mariana Malan
2013-01-04 01:00

Tom Cruise in Jack Reacher

Lekker, ondanks kort Cruise


Jack Reacher
Aksie

Wanneer Jack Reacher hom in sy volle lengte uitstrek, is hy 6 voet 5 duim lank en hy weeg 210 pond. Skurke slaan op die vlug as hulle hierdie indrukwekkende figuur net sien.

En hier trippel Tom Cruise in – met diksoolskoene aan net mooi 5 voet 7 duim lank. Boonop is hy glad geskeer, netjies aangetrek en alles behalwe skrikwekkend. Cruise is só nie Jack Reacher nie.

Dis nou die ding van ’n vooropgestelde idee hê van ’n karakter wat jy in boeke leer ken het, en hy verskyn in ’n totaal ander gedaante op die silwerdoek. Dit kan jou aandag aftrek van ’n besonder goeie draaiboek en ’n lekker speurverhaal.

Dit is presies wat hierdie rolprent bied. Die skrywer Lee Child het die manier om jou by gebeure te betrek. Tot sy eer moet gesê word dat die draaiboekskrywer en regisseur Christopher McQuarrie dít vasgevang het, al het hy die verkeerde akteur in die held se skoene geplaas.

Die rolprent begin spannend. ’n Sluipskutter skiet vyf mense in die straat dood. Die polisie identifiseer gou die skut en arresteer hom. Hy weier om ’n woord te sê, behalwe dat Jack Reacher gevind moet word om sy onskuld te bewys.

Reacher en die gevangene het ’n konfrontasie gehad toe hulle saam in Afganistan geveg het.

Dié twee is glad nie gaande oor mekaar nie, maar Reacher is ’n man wat op uitdagings floreer. Saam met die prokureur wat vir die verdediging (Rosamund Pike) aangestel word, ontrafel hy stap vir stap wat eintlik gebeur het.

Soos elke Reacher-aanhanger weet, steur hy hom nie aan die gereg nie. Al waarin hy belang stel, is die waarheid.

Hy laat hom nie intimideer nie en Cruise gooi sy lyfie heelhartig in elke geveg en jaagtoneel. Daar is baie spanning en uitstekende ontknopings van geheime.

Robert Duval maak sy verskyning in ’n lieflike kamee­rol as eienaar van ’n skietbaan waar met groot wapens gevuur word. Selfs op sy ouderdom maak hy ’n indrukwekkende rowwe oudstryder met die naam Cash. Wanneer hy en Reacher kragte saamgooi, spat die vonke behoorlik.

In die geheel is dit ’n baie genotvolle en aksiebelaaide rolprent en slaag danksy die sterk draaiboek en ten spyte van Cruise.

Met Tom Cruise, Rosamund Pike, Robert Duval, ­Richard Jenkins en ander.
Regie: Christopher McQuarrie. Na die roman van Lee Child.
Tydsduur: 130 minute.
Ouderdomsperk: 13TG.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur