JIP GESELS MET…THE PLASTICS Liandri Pretorius
2012-12-25 01:00
Verskaf

Lauren Waller/It's Mine Now

JIP gesels met…The Plastics

 

Ons het met Karl Rohloff van The Plastics gesels oor hul nuwe album Pyramid, wat onlangs op musiekwinkels se rakke begin pronk het.

 

Hoe voel jy wanneer jy julle musiek op die radio hoor speel?

Ons voel baie tevrede omdat ons soveel tyd aan ons musiek spandeer, van liedjies skryf totdat die album opgeneem word. Dit is so lekker om dit op die radio te hoor en dat dit op ’n platform gespeel word wat soveel luisteraars aantrek. Ek dink nie ons sal moeg word daarvoor nie.

 

Wat is julle band se geheime resep?

So baie dinge! Jy moet musikaal verenigbaar wees. Dit beteken nie noodwendig dat ons almal van dieselfde tipe bands of musiek hoef te hou nie, want dit is belangrik om inspirasie van meer as een plek af te kry. As jy net deur een band geïnspireer word, sal al jou liedjies presies soos daai band se musiek klink.

 

Jy moet ook goed met mekaar oor die weg kan kom omdat jy so baie tyd saam met mekaar moet deurbring en dan ook almal se opinies in ag neem wat die musiek betref. Ons is gelukkig genoeg om ’n groep ouens te wees wat al jare pelle is en ons sien of praat omtrent daagliks met mekaar. ’n Mens hoor van so baie bands wat uitmekaar val as gevolg van rusies, maar ons is vasberade om dit nie met ons te laat gebeur nie.

 

Wat inspireer julle musiek?

Vanselfsprekend is dit ander bands en musikante. Jy kan nie help om beïnvloed te word deur dit wat jy hoor nie en ’n mens “leen” baie keer ’n idee vanaf iets wat jy gehoor het sonder om dit agter te kom. Ook daardie alledaagse situasies en dinge wat tussen mense gebeur. Ons word ook deur mekaar geïnspireer wanneer ons saam speel.  Dit is ’n kollektiewe energie wat musiek so magies maak.

 

Waaroor is jy passievol in die lewe benewens musiek?

Die natuur, poker, ons is groot krieket-aanhangers, om te chill, partytjies en die alledaagse lewe.

 

Wat wil julle graag binne die volgende paar jaar bereik?

Ons fokus maar altyd op die kort termyn tot mediumtermyn toekoms van die band. Ons is die tipe ouens wat net ’n idee kry en dan van daar af kyk wat gebeur. Ons het daarom nog nie regtig jare vooruit beplan nie, maar dit sal ons gelukkig maak om teen die einde van 2015 te kan terugkyk en sê ons het in Suid-Afrika gegroei en naam gemaak in Europa en Amerika, met nog ’n album agter ons naam.

 

Wat geniet jy die meeste van jou werk?

Ons sien dele van die land wat ons seker nooit sou sien as ons nie deel van die band was nie en natuurlik ook al die verskillende mense wat jy langs die pad ontmoet. Daar is omtrent nooit ’n vervelige oomblik wanneer ons toer nie! Ons kry ook die geleentheid om saam met internasionale bands op te tree, iets waarvan ons ? voorsmakie gekry het toe ons saam met 2 Door Cinema Club opgetree het. Jy kry die geleentheid om iets te doen waaroor jy mal is! Ons maak al musiek vir die oorgrote meerderheid van ons lewens en om dit op hierdie skaal te kan doen is die beste.

 

Hoe het julle musiek verander sedert julle eerste album?

Toe ons begin het, het ons van punk agtergronde gekom, so om in ’n ander manier te begin skryf was vir ons ’n nuwe ding. Ek dink ons het beslis as liedjieskrywers gegroei en vir my klink Pyramid gepoleer.

 

Wat is jou gunsteling liedjie op Pyramid?

Ek is trots op almal – ons het tonne liedjies geskryf en het so baie idees gehad, maar het uiteindelik toe op 10 snitte besluit wat ons ag as die beste liedjies wat ons die afgelope 2 jaar gemaak het. Ek is mal oor “Underwater Kite,” want dit is nogal ’n quirky liedjie en ons het dit baie geniet om onsself oor die loop van ’n naweek op te neem.

 

Na watter plaaslike bands luister julle?

So baie; Taxi Violence, Beast, The Mysticcs, December Sreets, Beach Party, Al Bairre, Red Huxley en soveel meer. Ons is geseën met soveel goeie bands op die oomblik.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur