REKENMEESTER? DOKTER? DIS NIE VIR MY NIE! Simoné Sevenster
2012-12-21 05:00

Rekenmeester? Dokter? Dis nie vir my nie!

Jou ouers wil dalk baie graag hê jy moet volgende jaar Medies, Bcom of Argitektuur gaan studeer.  Jou hart, en jou talent, sê natuurlik die teenoorgestelde.  Jy wil ’n sanger word.  Dit is nie altyd ’n slegte idee nie- wees immers net doodseker oor wat dié beroep behels, en of dit realisties is.

Simoné Sevenster het met voltydse sanger, Ané van Jaarsveld gesels.  Volgens haar moet mens doelgerig wees, en baie toewyding hê.  “Party mense dink ’n sanger staan net en maak ’n melodie met sy mond.  Dit verg baie oefening om elke noot amper perfek te kry.” Sy meen sangers wat suksesvol in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf wil wees moet in hulle talent glo en hard werk.

Jy het dalk ander drome as om ’n sanger te word.  Jy wil graag eendag ’n wêreldberoemde aktrise word wat in Hollywood woon.  Dit mag ook wees dat jy graag in een van Suid-Afrika se plaaslike sepies wil speel of jy wil dalk ’n goeie naam in die teaterbedryf maak.  Ongeag watter rigting jy wil inslaan, jy moet weet wat drama as loopbaan behels en of dit realisties in Suid Afrika is.

Volgens finalejaar dramastudent, Michelle Broodryk, is dié kursus ongelooflike harde werk.  “Baie mense dink dit is kinderspeletjies maar dit verg baie deursettingsvermoë en konstante oefening.”  Sy sê as mens drama wil studeer en ’n suksesvolle akteur in SA wil wees, moet jy propvol selfvertroue wees.  “As jy ’n skaam mens is, moet dit glad nie oorweeg nie.  Dit is ’n baie kompeterende bedryf en net die bestes word gekies.”  Verder vertel sy mens moet met min slaap oor die weg kan kom.  “Ons het soms tot twee uur in die oggende geoefen, en dit was net tydens my studiejare.”  Sy sê jy moet nie dat enigiets in jou pad staan nie- as drama jou passie is, en jy is ’n harde werker, “go for it!”

Dalk hou jy van beplanning en organisering-  jy wou dalk nog altyd ’n ‘event planner’ word.  Lees gerus wat suksesvolle funksiebeplanner, Anthuan Minnie, oor hierdie beroep te sê het.  “Dit is baie challenging, mens moet op jou voete dink, en so nou en dan drink jy ’n bloeddrukpil om alles level te hou.”  Maar ongeag die stres, vertel hy, is dit die moeite werd.  “Dis ’n fantastiese gevoel wanneer mens by ’n funksie se deur staan en hoor hoe die mense dit geniet, en sien hoe alles in plek val, en dan agterkom dis te danke aan jou harde werk.”  Hy voeg by dat die bedryf nie vir almal gemaak is nie.  “Jy moet selfvertroue hê en leer om nooit enige kritiek kop toe te vat nie.”

Daar het jy dit: nog ‘n paar loopbane om jou te help om jou keuse, hopelik, makliker te maak.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur