DIS WEER PRYSUITDELING... Izelle van Tonder
2012-12-21 05:00
Thinkstock

Dis weer prysuitdeling...

Daar is opgehoude asems, niemand roer in hulle stoele nie, elke haar is op sy plek en orals is daar sprankelende, wit tande.

“en die Oscar gaan aan…”

Iemand stamp aan my en ek word uit my dagdroom geruk. Terug na die werklikheid van ’n warm saal, duisende skoolskoene en ’n das wat voel of dit my wurg. Nee, dit is toe nou nie die Oscars nie, maar liewer die jaarlikse prysuitdeling! (Dames en here, beteuel asseblief tog net jul entoesiasme.)

Ek twyfel sterk of ek die enigste mens is wat dink prysuitdelings is vir die voëls. Natuurlik is dit lekker om vir jou prestasies herken te word, maar drie ure se stilsit vir vyftien sekondes roem en plus minus sewe tree oor die verhoog? Nee wat, dankie - ek droom liewer my eie drome.

Ek sit in stilte en klap op al die regte tye hande, maar in my kop speel daar ’n duisend verskillende rolprente af. Partykeer droom ek van warm somersdae; roomys wat tussen ’n mens se vingers taai word en daardie chloor reuk wat op bruingebrande lywe sit en warm bak. Ander kere heroorweeg ek my beroepskeuses…. ’n resieskardrywer behoort interessant te wees, of dalk ’n leeutemmer? Maar meeste van die tyd verlekker ek my in die mense om my. My mede-leerders (wat net so verveeld lyk soos wat ek voel), die een op die verhoog wat haar wel-verdiende vyftien sekondes van roem terdeë geniet en haar ouers wie se borskaste letterlik wil bars van trots. Dan glimlag ek ook sommer en begin myself oortuig dat prysuitdelings dalk nie só erg is nie…

Hmm nee. Nee, prysuitdelings is régtig erg. Maar, nietemin moet ek bieg dat dit ’n baie goeie geleentheid is om te droom. Of dit nou oor daardie groot trofee is wat op die verhoog pryk, of oor die roomys wat jou ouers jou gaan stick as dit uiteindelik verby is, een ding bly vir seker: Prysuitdelings is gemaak vir die bou van toekomsplanne en drome. Wie weet, dalk begin jou toespraak by die Oscars eendag met “Lank, lank gelede toe ek op my plastiekstoel by my graad 11 prysuitdeling gesit het, het ek gedroom…”

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur

Gert Prinsloo

2013-01-05 13:58

Die kinders is rerag baie kompeterend op ons skool prysuitdeling die atmosfeer is gewoontlik so dik.Jy kry ook mense wat net een keer op die verhoog en ook die mense wat minute na minute op verhoog boer.Kinders beskou dit altyd as 'n kompetisie