ORKAAN SANDY Lehandi Eygelaar
2012-12-18 05:00
Thinkstock

Orkaan Sandy

Amerika is steeds in rep en roer oor orkaan Sandy. Maar wat as so ’n orkaan Suid-Afrika sou tref? Sou ons voorbereid wees? Ek het op een van my Facebook-pelle se status gelees dat die eerste “voorsorgmaatreël” wat in Suid-Afrika getref sal word, sal wees om die naam na iets meer gepas te verander… iets soos Sipho.

Nietemin dink ek ons sal heel voorbereid wees op ’n orkaan. As ons elektrisiteit afgesny word, sal dit nie werklik ’n probleem wees nie. Ons het mos al genoeg oefenlopies gehad in die afgelope paar jaar.

Ek het tydens die week van die orkaan met ’n familie in New York gepraat en die kinders het vir daardie hele week nie skool toe gegaan nie. (Nie dat ek dink dit ongerief vir leerders op enige kontinent sal veroorsaak nie.) Dit sal definitief nie hier ’n probleem wees nie, aangesien baie skole in elk geval nie handboeke het om uit te werk nie. Miskien sal die orkaan dan sommer ook al hierdie nimmereindigende stakings wegspoel.

Dit lyk buitendien of ’n orkaan reeds party plekke in Suid-Afrika getref het as ons na die infrastruktuur kyk, maar hierop is ons ook voorbereid. As jou motor verdwyn, sal dit sekerlik niks nuuts wees nie, aangesien 180 mense in Suid-Afrika dit daagliks ervaar. As jou huis wegraak, moenie bekommerd te wees nie. Nkandla beloof veilige vestings vir vele mense. Onse lughawens is ook slaggereed vir ingeval dit begin sneeu. As jou vlug gekanselleer word, hoef jy ook  nie bekommerd te wees nie, want as jy met 1Time sou vlieg, sou jy in elk geval nie jou bestemming bereik het nie. Die Rand is ernstig besig om drasties te verswak, dus as ons “Wall Street” vir die dag sluit, gaan dit (glo my) ook nie ’n wêreldse verskil maak nie.

Gelukkig bly ons in ’n orkaanvrye gevaarsone. Ons is werklik bevoorreg om hier in Suid-Afrika nie gereeld getreiter te word met aardbewings, vulkane of tornado’s nie. Ten spyte van al die orkaan-simptome in Suid-Afrika, bly ons steeds in die land van sonskyn, Superrugby, stokkiesdraai en braai. Ons is veilig in ons beeldskone natuur (behalwe as jy ’n renoster is).

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur