WENNERS SPEL K-O-R-R-E-K IN DIE ATKV SPELATHON 201 ...
2012-12-13 01:00

Wenners spel k-o-r-r-e-k in die ATKV Spelathon 2012!

Navorsing onder ’n paar skole het getoon dat leerders (en onderwysers!) baie gretig was om deel te word van ’n spelloodskompetisie wat die ATKV in 2012 wou uitrol – ’n eerste van dié aard vir die ATKV.

Die resultaat? 

 27 skole in Gauteng het uiteindelik baie optimisties aangedui dat hulle aan die kompetisie wou deelneem.   Die volgende kategorieë is vasgestel en sowat 3000 leerders is bereik:

-       Gr.6 EAT:  11 skole

-       Gr.7 HT:      5 skole

-       Gr.8 EAT:    5 skole 

-       Gr.8 HT:      6 skole

Die Spelathon-kompetisie het eers vlam gevat toe die uitdunne in elkeen van die vier kategorieë bepaal het wie die finaliste sou wees.  Elke kategorie het sy eie finaal gehad, met ’n gemiddeld van 20 finaliste.    Elkeen van hierdie deelnemers het bevestig waarom hulle as finaliste op die verhoog gesit het.  Hulle het verbete ronde na ronde ’n spelgeveg met mekaar aangeknoop, want elkeen wou as die wenner uit die stryd tree.  Nodeloos om te sê: ongelukkig kan enige kompetisie net een wenner hê.  Maar gelukkig in hierdie geval was die top 3 skole en die top 3 leerders in elke kategorie aangewys en elkeen van hulle het ’n sertifikaat ontvang. Elkeen van die top 3 leerders het ook ’n trofee en ’n kontantprys ontvang.  Ook het elke finalis ’n medalje ontvang.

Hierdie kompetisie het die potensiaal om baie wyd uit te kring, dis nou te sê as ’n mens die vele skole se teleurstelling omdat hulle nie aan die kompetisie deelgeneem het nie, in ag neem.  Die ATKV beoog om dié kompetisie in 2013 in al 15 distrikte in Gauteng uit te rol. Daarna sal dit hopelik nasionaal uitgerol word.  Hou gerus u skool se posbus dop.  Die uitnodigingsbrief vir die ATKV Spelathon 2013 word eersdaags aan die skole gepos.

 

Waar daar ’n wil is…

H/S Clapham kan met reg trots wees op Boitumelo Diale, die leerder wat die1ste plek voor die neus van 19 ander Gr.8 EAT finaliste weggeraap het.  Die rede waarom hierdie jong dame uitgesonder word, is omdat Afrikaans eintlik haar  derde taal is, al neem sy Afrikaans op die Eerste Addisionele vlak.  Haar determinasie om die kompetisie te wen, spruit uit haar omstandighede.  Haar moeder is dood toe sy maar 4jaar oud was.  Sy het van toe af by haar ouma grootgeword, want sy het nooit haar pa geken nie.  Sy beskik duidelik oor ’n groot veggees en is voorwaar ’n rolmodel en motivering vir elke jongmens!

Die ATKV wens elke wenner geluk en spreek die hoop uit dat hierdie spelvlammetjie nog in ’n spreekwoordelike onbeheerste veldbrand gaan verander!

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur