WP MIK WEER HOOG IN KRIEKETWEEK Kobus Pretorius
2012-12-03 01:00
GALLO IMAGES

Du Toit Maree van die Boland.

KAAPSTAD. Terwyl die Boland tans ’n “oorgangsjaar” beleef, sal die Westelike Provinsie die Coca-Cola Khaya Majola-krieketweek vanaf 17Desember op Potchefstroom benader met die mikpunt om as een van die topspanne aangewys te word.

Die WP het die laaste klompie jare gereeld in hierdie toernooi sy stem dikgemaak. En soos die spanbestuurder, Hannie Adams, tereg opgemerk het, die Kapenaars het geen keuse nie as om ook hierdie slag hul reputasie gestand te doen.

Die WP het ’n sterk kolfspan met onder andere David Bedingham en Jason Smith wat die wêreld aan die brand kan kolf, terwyl Imtiyaaz Groenewald en Dawood Christians aan die voorpunt staan van ’n boularsenaal wat nie te versmaai is nie.

Die Kapenaars het op dag een ’n wedstryd teen Noord-Gauteng, waarna KwaZulu-Natal volg. Op dag drie kom die WP in twee twintig20-wedstryde teen die Vrystaat en die Grens te staan.

Die Boland, wat verlede jaar die een span ná die ander die skrik op die lyf gejaag het, is met ’n spanbouproses besig, en die hoofafrigter, Rosseau Mercuur, erken daar sal in die volgende twee weke hard gewerk moet word om ’n mededingende span op die been te bring.

“Ons beskik nietemin oor ’n paar besonder talentvolle spelers, en van ons teenstanders in die toernooi gaan deeglik verras word.”

Jan Frylinck, Du Toit Maree en Reeve Cyster is spelers wat met dubbele honderdtalle kan spog; maar terwyl daar nog enkele vraagtekens oor die boulaanval hang, is Mercuur vol vertroue dat Frylinck, Justin Dill, Bjorn Fortuin en Curtly Louw die verlangde deurbrake sal kan maak.

Die Wynlanders se eerste wedstryd is teen KwaZulu-Natal, en dan word Gauteng aangedurf. Oos-Gauteng en Noordwes is die Boland se teenstanders in die twintig20-wedstryde op dag drie. Die wedstryde vir die laaste twee dae van die saamtrek sal deur die uitslae van die voorafgaande drie dae se wedstryde bepaal word.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur