WP EN BOLAND DEEL LOUERE IN DERBY Kobus Pretorius
2012-12-03 01:00

KAAPSTAD. Die Westelike Provinsie en die Boland het verlede naweek die louere in die jaarlikse skolekrieket-derby gedeel toe elke span ses van die 12 wedstryde gewen het.

Die meeste van die WP se senior spanne het die Wynlanders gekarnuffel, terwyl vir die Boland die juniors die beste daaraan toe was.

Met die WP se o.19A-span op 21/4 en later 66/5 was daar heelwat bekommerde gesigte in die WP-kamp. Maar toe volg ’n skitterende vennootskap van 169 lopies tussen David Bedingham (137) en Jason Smith (91) om die tuisspan na die uitstekende telling van 311/8 te voer.

Die Boland se boulwerk was nie heeltemal na wense nie, maar Jan Frylinck het darem 3/50 ingeoes.

Die besoekers is hierna vir 177 lopies uitgeboul deur Imtiyaaz Groenewald (3/24) en Dawood Christians (3/35). Rantin Fortuin (45) en Curtly Louw (30*) was die enigste kolwers wat hond haaraf kon maak.

WP se o.19B-span (133/6) was eweneens te sterk vir die Boland (132), met Taahir Samaai (50*) en Salih Pastor (44) mooi op stryk.

’n Erg verswakte Boland-meisiespan kon nie by sy WP-eweknie kers vashou nie. In antwoord op die tuisspan se 153 kon die Boland net 45 lopies bymekaarskraap. Shaydene Nieweveldt (3/6) en Tala Ross (3/13) het die aanvoorwerk vir die oorwinning gedoen, terwyl Amy Walker (3/11), Stefanie Botha (3/20) en Lurecia Coetzee (3/21) hul bes vir die Bolanders gedoen het.

Die o.17A-kragmeting het as gevolg van ’n klammerige baanblad laat begin en het toe ’n twintig20-wedstryd geword wat met 7 paaltjies deur die Boland (128/3) gewen is. Niel Botha (40*) was sy span se topkolwer nadat Tyler Sylvester (51) vroeër die beste vir die WP (127/4) gevaar het.

Die WP se o.17B-span (100) het die bordjies verhang deur die Bolandse Plattelandspan (74) te klop met behulp van Robin Kriel (5/13) en Robert Newby (4/4) se boulwerk. Albert Engelbrecht (41) was die enigste Bolandkolwer wat die mas kon opkom.

Die WP se o.15A-span (178/9) was met 60 lopies te sterk vir sy buurman ná stewige bydraes deur Kyle Verreyne (52), Yaasin Allie (43) en Dyllan Matthews (4/11). Fineto Mehl het goed geboul vir die Boland (118), en George Lourens (36) het die beste met die kolf gevaar.

Die Boland se o.15B-span (106/4) was te sterk vir die WP (105).

In die o.13A-kragmeting het Samuel Alexander (4/17) en Kyle Pluke (3/27) die grondslag gelê vir die WP (78/6) se vierpaaltjie-sege, maar in die o.13B-wedstryd het die Boland (133/1) ’n wegholoorwinning met 9 paaltjies behaal danksy L. Carstens (52*), R.Lubbe (48*), L. Strydom (3/6) en N. van Schalkwyk (3/21).

 

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur