Liewe 16-jarige Carryn-Ann,
Ek skryf vir jou aan die einde van 2012. Jy was toe in gr.11.
Die wêreld lyk maar nog dieselfde. Ons vlieg toe nog nie met robotte in die lug nie. Riaan Cruywagen lees egter nie meer die nuus nie. Sorry daaroor.
Jy gaan nie die leerlingraad, die koerantredaksie of selfs die o.19C-span vir netbal haal nie. Sorry daaroor ook. Jy gaan wel in die geskiedenisklas nies en ’n windjie laat, en mense gaan lag en jou daarvoor onthou. En dis al wat in die lewe saakmaak. Jou lawwigheid.
Jou eerste soen gaan eers volgende jaar gebeur. Sorry daaroor ook, ek weet jy oefen nou al lank op jou hand. En nee, dit sal nie onder die sterre wees nie.
Hou op stres! Ek weet jy voel dat almal mooier, maerder, slimmer as jy is. Maar dis oukei. Jou CV lyk tans indrukwekkend. En wanneer jy 26jaar oud gaan word, gaan jy ’n moewiese gedaanteverwisseling ondergaan en daai babavetjies verloor.
Jy is pragtig. Daar sal dimples ná jou eerste jaar op universiteit op jou boude verskyn van al die slaptjips wat jy gaan eet. Begin nou al baie water drink.
Moenie jou wenkbroue te veel pluk nie. Moenie begin rook nie. Nooit nie. Moenie eens een keer probeer nie. Jy gaan dit in jou eerste jaar probeer en dan gaan jy sukkel om van die gewoonte ontslae te raak.
Moenie nou oor ’n boyfriend worry nie. Ouens is nie nou jou ding nie. Aanvaar dit. Jy gaan eers way-y-y later, ná die res van jou vriende, jou eerste boyfriend kry. Vry in die bondel.
Leer spel asseblief reg. En lees ’n Deon Meyer-boek. Jy sal nie spyt wees nie. Jy is nie ’n syfermens nie. Dis oukei. Jy gaan in elk geval nooit weer wiskunde of algebra gebruik nie. Maar wees nice met jou rek-onnie. Hy gaan nie meer lank hier wees nie.
Kies jou vriende reg. Hulle gaan later belangriker as jou familie word. Waardeer jou ouers. Hulle gaan vir jou geld stuur wanneer jy vir die eerste keer uittrek en in die middel van die maand nie meer melk kan bekostig nie.
Moenie bang wees om foute te maak nie. Dis oukei. Jy moet dit maak. Ek belowe.
Moenie so haastig wees om groot te word nie. Jy is eintlik nog net ’n kind. Niks bly ooit dieselfde nie.
Liefde,
27-jarige Carryn-Ann