SO KOM ONS SKOOLLEWE OOK UITEINDELIK TOT ’N EINDE Lehandi Eygelaar
2012-11-30 01:00

So kom ons skoollewe ook uiteindelik tot ’n einde

Liewe Jippers

So breek my laaste rubriek as JJ aan.  Ek het nogal ’n rukkie oor hierdie rubriek sit en wonder, want ek het net een rubriek oor, maar oneindig baie dinge wat ek julle wil vertel.  Soos, onder andere, die 10 minuut-lange stryd wat ek en my Ma sopas met ’n reënspinnekop gehad het.  Ja – my Ma het harder as ek geskree.

Ek besef dat daar die afgelope paar maande vir die matrieks gehamer word op die feit dat ons moet afskeid neem van ons skoollewe, moet self-ondersoek doen en ons planne agtermekaar moet kry vir ons toekoms.  In die media, ons gemeenskappe, by ons ouerhuise en by die skool word ons bombardeer met die feit dat alles nou verby is en of ons gereed en volwasse is om ons toekoms aan te pak.

Ek het tog besluit dat ek hierdie rubriek moet skryf oor afskeid neem en aanbeweeg.  Alhoewel daar steeds enkele matrieks is wat bly is dat hul klaar is met skool, is die meeste van ons ook bly, maar tog hartseer oor alles en almal wat ons moet agterlaat.  Ons maak planne vir reünies, maar besef tog dat geen reünie dieselfde gevoel en gees wat jy as klas saam op skool gehad het, gaan kan herroep nie.  Dinge gaan net nie meer dieselfde wees nie.  Almal verander.  Jy is teen daardie tyd meer volwasse en dalk al getroud met twee kindertjies wat rondskarrel.  Jy skaterlag dan oor al die goeie stories van jul skooldae en jy verlang daarna, maar jy is nie dan meer hartseer dat skool verby is nie.
Ek is in ’n klein plattelandse skool in ’n matriekklas met slegs 21 leerders.  Ons het werklik mekaar se beste vriende en familie geword vanaf graad 8 tot nou.  Ek en my matriekklas het in September ’n tuin geskep op die skoolgrond.  Gisteraand het ons vir oulaas na ons finale eindeksamen-vraestel ’n bring-en-braai in ons tuin gehou saam met ons onderwysers.  Wie sou nou kon dink dat matrieks en hul onderwysers so lekker kan kuier en saam lag?  Tot baie laat het almal nog om die vuurtjie gesit en kuier en lag vir alles wat ons klas al oor die jare aangevang het.  Geen teken van hartseer het te voorskyn gekom tot ons mekaar moes groet en besef: hiérdie is werklik die einde.  

Op 3 Januarie 2013 sien ons mekaar gou weer om amptelik uit ons velle te spring oor die uitslae, maar hier eindig vyf jaar se saamwees.  Vyf jaar se saam stres voor ’n Engelse mondeling. Vyf jaar se kom-ons-blaai-gou-vinnig-deur-ons-Biologie-handboek voor die toets.  Vyf jaar se afhanklikheid van mekaar.  Vyf jaar se vriendskap.  Vyf jaar se saam lag en stout wees.
Dit is moeilik om aan te beweeg.  Veral as jy op die platteland woon en almal mekaar ken en alles van mekaar weet – of so dink die meeste.  Ons is opgewonde om klaar te maak met skool en volgende jaar in verskillende rigtings te spat, maar tog is ons hartseer oor die agterlaat. Ons moet mekaar agterlaat.  Die res van die skool is ook ons familie.  Buiten dat ons ons familie moet agterlaat, kan ons ook nie meer vashou aan hoe ons dinge op skool gedoen het nie. Ons moet nou ons brein instel vir die volwasse lewe waar ons nie sommer gaan wegkom met ’n grappie, stoutigheid of mooipraat nie.
Vir eers, gaan rus nou lekker hierdie vakansie.  Onthou, ’n mens het nie altyd nodig om jou vakansie tussen vriende met groot lawaai en oor-en-weer-kuier deur te bring om dit te geniet nie. ’n Yskoue bottel sjampanje wat saam met jou familie geniet word op 3 Januarie 2013 is ook ’n perfekte, genotvolle resep vir ontspan!

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur