RUAN LEI SWD IN KRIEKETWEEK Kobus Pretorius
2012-11-26 01:00
André Stander

Die kaptein van die SWD se o.19-krieketspan, die 18-jarige Ruan Stander.

GEORGE. Krieket is in sy bloed.

Dit is met dié passie dat die kaptein van die Suidwestelike Distrikte se o.19-krieketspan, Ruan Stander (18), volgende maand sy span in die jaarlikse Coca-Cola Khaya Majola-krieketweek gaan aanvoer.

Ruan was ook verlede jaar in die span en weet wat dit verg om in dié krieketweek welslae te behaal.

Dié beskeie gr.12-leerder van die Hoërskool Outeniqua, wat ook die kaptein van die skool se eerste span is, was vanjaar die SWD se mokerman in die nasionale driedagreeks.

Die hoogtepunt van sy skoolloopbaan was toe hy reeds op 15-jarige ouderdom vir die SWD begin speel het. Vanjaar het hy met die kolf uitgeblink met tellings van 58 (teen die WP), 65 (teen die OP) en 63 (teen Grens).

Ruan is oorspronklik van Centurion in Pretoria. Sy ouers het vyf jaar gelede na die Suid-Kaap verhuis. By die Laerskool Hennopspark in Pretoria het hy leer krieket leer, en dit was op George waar sy afrigter by Outeniqua, Prieur du Plessis, sy kriekettalent verder ontgin het.

Ruan is ’n regskolwer en kan ook as ’n medium-snelbouler ingespan word. Hy kolf op nr.3.

“Ek hou daarvan dat my kolf die praatwerk doen. Ek is nie bang om die boulers aan te vat nie,” het Ruan aan JIP gesê.

In die 2011-’12-seisoen het hy twee honderdtalle en twee vyftigtalle gemoker. Sy totale lopies vir die seisoen was 576 teen ’n gemiddelde van 54. Hy het ook 11 paaltjies geneem.

Ruan is opgewonde oor sy rol as kaptein van die SWD-span.

“Ons beskik oor ’n goed gebalanseerde span. Elkeen verstaan sy rol en weet dat ons oor die vermoë beskik om teen die bestes mee te ding en te wen,” het Ruan gesê.

Sy rolmodel is die Wes-Indiese Eilande se aanvangskolwer en mokerman Chris Gayle.

Ruan wil graag volgende seisoen vir die SWD se akademie speel. Hy glo hy het ’n groot toekoms in die Suid-Kaap omdat die nodige strukture daar is.

“My korttermyn-doelwit is om die Warriors se o.19A-span en die SA Colts-span te haal.

“Ek sal baie graag eendag vir Suid-Afrika wil speel. “Ek sal dit egter maar stap vir stap doen, want ek sal eers my stempel by die Warriors moet afdruk.”

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur