Is sy régtig nou maer?
Dit is moeilik om te besluit waar jy met advertensie-agentskappe staan. Wil hulle nou hê jy moet die produk kóóp, of is daar ’n bedekte bespotting van die produk?
Ek dink nie ek is al ooit deur ’n televisie-advertensie oortuig om ’n produk te koop nie. Dalk diep in my onderbewussyn...?
Soms, as ek na die kassie staar met my gesinslede aan my sy, wil ek uit skaamte my kop in die kussingoortreksel druk. As die advertensiemense dink die mens is ’n hormoon gedrewe wese, moet hulle die onakkurate steekproef hersien.
My hande het nog nóóit gejeuk om die houer Vaseline van die winkelrak te ruk net omdat daar naakte vroue in die advertensies was nie.
Waarvandaan kom die ooms en tannies wat so vir versekeringsmaatskappye getuienis aflê? Die een se verhaal is meer eienaardig as die ander s’n. Dis net vreemd dat geen van my ma se vriendinne nog nooit sulke fantastiese verhale kan vertel nie. As die advertensievervaardigers wél dié taktiek wil volg, moet hulle oorredende akteurs kry. Dalk is dit jou voorland as jy nie ’n hoë premie kan bekostig nie X om te getuig van fabelagtige diens.
Die dieetadvertensies verloor ook onnodig kliënte, dink ek. Ons kan nie ’n vetsugtige samelewing bekostig nie en dieetprodukte se rol is noodsaaklik in ons koeëlronde samelewing. Laat die proefkonyne tog net dieselfde klere aantrek vir die before en after foto’s. Laat hulle op albei breed glimlag teen dieselfde agtergrond. Dit help nie daar word slinkse draaie gegooi om die ou in die voor-foto te laat lyk soos die pre-historiese weergawe van sy maerder self nie. Bly op die smal weg.
Dit help nie dat die maatskappye dieselfde resep volg om bo uit te kom nie. As al die produkte bo is, is niemand ’n uitskieter nie. Dit het tyd geword dat advertensies wegbeweeg van die waansinnige gevallestudies wat hulle graag vir veronderstelde slagoffers skets. Een van my lewensideale is juis om op ’n sonskyndag Ultramel-vla saam met ’n blonde gesin te eet. In my oë is die beste advertensie die stilste. As die adverteerders te min geld het om op behoorlike musiek of woorde te blaas, spaar eerder die geld as om jou kliënte af te skrik. Die een advertensie se musiek is vinniger as die vorige een s’n. Die vroue se stemme raak al hoe hoër. Die beskrywings raak al hoe meer kleurvol. En die klandisie? Ons hol weg. Moenie sélf die ondergang van jou produk bewerkstellig nie. Stuur eerder flyers uit. Of huur ’n mimiekunstenaar.
Aldu is ’n JJ en in gr.12.