Sake in T20 warm voor vakansie
Die kolwers in vanjaar se Coca-Cola Twintig20-skoletoernooi het verlede week met vier honderdtalle die kollig gesteel.
Twee hiervan is in die Noordelikes-streek, deur Kobus Gouws van Pretoria-Noord (117 lopies) en Koketso Makwela van Prestige College (113), aangeteken.
St Dunstan’s College het egter vandeesweek alle oë in die Oostelikes-streek op hom gevestig deurdat hy drie oortuigende seges afgedwing het.
Die skool het Brandwag tot ’n skamele 86 lopies beperk. Brandon Botha, wat 4/15 aangeteken het, was deurslaggewend met die bal. Matthew Corin het sy span tot dié sege help lei met ’n onverbeterlike 54 lopies.
Richard Emslie het hom by Matthew as een van die voorste lopiemakers aangesluit nadat dié paar onderskeidelik 74 en 73* in hul kragmeting teen Wattville High gemoker het. St Dunstan’s het met 173 lopies gewen.
Dié span het ook Hulwazi vir 63 uitgeknikker en hierdie skool met 10 paaltjies ore aangesit.
Thiart le Roux (60) en Ryan Lancaster (54) van die Hoërskool Montana het vandeesweek elk ’n vyftigtal gemoker in hul sege van 49 lopies oor Oos-Moot.
Montana het ’n mededingende 164/4 aangeteken. Dylan van Wyk het 3 paaltjies vir net 8 lopies platgetrek, en die Oosies tot 115/8 in hul 20 boulbeurte help beperk.
Zwartkop het die Tuks Sportskool met 35 lopies geklop, terwyl Garsfontein met vier paaltjies deur Cornwall Hill College uitoorlê is.
Grey Kollege in Bloemfontein het gewys dat hy een van die kragte in vanjaar se toernooi is toe hy die Hoërskool Staatspresident Swart tot 21 lopies beperk het. Grey het die kragmeting met 10 paaltjies gewen. Dié skool het ook die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad met 91 lopies getroef.
Vanjaar se Coca-Cola Twintig20-skoletoernooi het in Oktober begin, en sowat 550 hoërskole neem hieraan deel.
Elk van die 16 krieketunies sal ’n uitkloptoernooi hou om ’n eindelike provinsiale kampioen te kroon. Daarna spook die 16 kampioene dit uit vir die reg om as een van die land se ses franchise-spanne in die nasionale deel van die toernooi uit te draf.
Die eindstryd sal na verwagting aanstaande Februarie in die Wes-Kaap gehou word.
Paarl Boishaai, wat die Cape Cobras verlede jaar verteenwoordig het, het toe die Hoërskool Noord-Kaap (Knights) in die eindstryd op Potchefstroom geklop.
Hoogtepunte tot nou
Hoogste spantotale: (eersgenoemde skool teken dié totaal aan)
293/3: Benoni t. Hulwazi
286/6: Kempton Park t. Tembisa
264/3: Garsfontein t. Woodox
236/5: E.G. Jansen t. Buhlemfundo
221/5: Affies t. Atteridgeville
Hoogste kolftotale:
157- Stefano di Bartomolo (Benoni)
123- Brandon Grutter (E.G. Jansen)
117- Kobus Gouws (Pretoria-Noord), Brendon Badenhorst (Bergsig)
113- Koketso Makwela (Prestige College), Xander Venter (Garsfontein)
Beste boulsyfers:
6-8: J. Jonker (Kalahari High School)
5-5: Sinne Ntshona (St Andrews)
5-7: Arno Moolman (Oakdale), Johandre Swanepoel (Garsfontein)
5-12: Cresendo Maksella (Langenhoven Gimnasium) en Vuyo Koki (Khuma Development)