DISHONORED (PC/XBOX 360/ PS3) Errol D. Cason
2012-11-19 01:00

Dishonored kry amper volpunte!

Dishonored (PC/Xbox 360/ PS3)

Om ’n splinternuwe titel bekend te stel in vandag se speletjieswêreld sit nie in elke vervaardiger se broek nie. Dit is net makliker om ’n 2, ’n 3 of selfs ’n 6 agter ’n bekende naam te plak en dit op te dis aan die alreeds lojale aanhangers.
Dishonored
het dus klaar bonuspunte in my boek. En dit is beslis een van die beste titels van die jaar.
Jy is die sprakelose hoofkarakter, Corvo Attano, en jy moet magteloos toekyk hoe jou geliefde keiserin voor jou oë vermoor word deur ’n bende sluipmoordenaars. Dit suig nog so ’n bietjie meer vir jou:
a.    Omdat dit jou werk is om seker te maak dat so iets nie gebeur nie en
b.    Die bende besluit om jou die ‘skuldige’ te maak. Jy word dan in die tronk gegooi van waaruit ’n rebellie groep, wat die keiserin se dogter op die troon wil sien, jou help om te ontsnap en dan jou mes in die rigting van wraak draai.
Die speletjie word opgedeel in verskeie unieke missies – van ’n kostuumbal tot ’n huis van dames met lae morele waardes. Elke missie het ’n spesifieke doel en speel af in ‘n ander deel van die stad Dunwall.
Dunwall lyk fantasties. Dis met soveel aandag en liefde aanmekaar gesit dat ek hoop ons sal nog toekomstige titels in die stad sien. Dunwall is langs die see geleë en het ryk geword as gevolg van walvisolie - iets wat ’n groot rol in Dishonored speel. Alles in die stad hardloop op die olie, dink aan die ‘steampunk’ tipe speletjies waar als op stoom hardloop, maar hier word eletrisiteit opgewek met walvisolie en toerusting werk met walvisolie.
Dunwall het op ook ’n rot-plaas, iets wat in jou guns kan tel, of probleme kan veroorsaak. Dunwall het ook vele nou straatjies, plat dakke, ondergrondse tonnels en waterweë wat Corvo kan trotseer.
Wat is dus die punt van Dishonored?  Jy word in ’n deel van die stad, gewoonlik per boot, afgelaai en hoe jy by jou teiken uitkom en wat jy doen op pad daarheen is jou keuse.
Die hele speletjie kan klaargemaak word sonder om een keer gesien te word deur enige van die vele karakters en ook sonder om enige iemand dood te maak, selfs jou teikens.
Wat dit interessant maak, is dat dit nie ’n morele keuse is soos in meeste speletjies  nie. Jy gaan nie spesiale kragte ontsluit deur of goed of sleg te speel nie. Dit als hang af van hoe jy voel wraak geneem moet word. Is dit net die hoofspelers wat skuldig is en verdien nét hulle wat hul toekom, of verdien almal wat vir hul werk ook ’n mes in die donker. Wil jy eerder iemand bekruip en ’n mes in sy bors plant terwyl jy hom in die oë staar of maak dit meer sin om sy reputasie te ruïneer? Dit is jou keuse.
Hierop word verder uitgebrei deur watter en hoeveel magte jy vir Corvo wil gee. Om die dele van die stad waarin jy geplaas is te verken en missies vir van die karakters daarin te doen (alles opsioneel) kan jy ‘Runes’ en ‘Bone Charms’ bymekaar maak. ‘Runes’ word gebruik om magte te ontsluit. Hiermee kan Corvo deur mure sien, diere en rotte se liggame oorneem, tyd stop, vinniger hardloop, verder spring, ens. Dit lei als tot net meer keuses oor hoe jy speel.
Bone Charms kan gedra word om vir jou ekstra beskerming te gee sodat rotte jou nie meer aanval nie, of kan jou help om beter te mik met jou mes.
Alle wapens (kruisboog, geweer, mes, bomme, ens.) kan ook opgegradeer word deur geld wat jy optel. Hoe jy speel het natuurlik gevolge, hoe meer mense jy doodmaak hoe meer rotte gaan daar wees. Rotte is nie vriendelik nie en groot groepe sal jou net so maklik aanval soos ander mense. Ook sal daar meer wagte wees en op die einde ’n baie donkerder slot tot jou verhaal.
Dishonored is ’n speletjie met baie aksie en alles dra by tot ’n baie genotvolle ervaring wat jy oor en oor kan speel om elke moontlike faset te ondersoek. Die storie is miskien nie die beste een wat daar al geskryf is nie, maar dit word baie maklik vergewe as jy eers jouself verloor in die wêreld van Dunwall.
Punt: 4.5/5

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur