DELANO POTGIETER LAAT WAAI MET KOLF ÉN BAL Sharlene Sharim
2012-11-12 01:00

Die Albertonse Hoërskool Marais Viljoen het in Delano Potgieter nie net ’n hotkloukolwer nie, maar boonop ’n paaltjiemasjien.

Dié 16-jarige beleef tot dusver ’n uitstekende seisoen met die kolf én met die bal vir sy skool se eerste krieketspan.

Delano het reeds 1 144 lopies in 15 kitswedstryde (50 boulbeurte) van sy wilgerlat laat vloei teen ’n gemiddeld van 95 lopies per beurt.

Hy het vier honderdtalle aangeteken en teen Noordheuwel (138*), die HTS Elspark (169), Alberton High (101*) en Jeppe Boys’ High (129) sy kolf vir dié mylpaal gelig.

Delano het vanjaar ook sewe vyftigtalle ingeryg en slegs in een van die 15 wedstryde, teen Parktown Boys’ High, nie dubbelsyfers behaal nie. (In dié kragmeting het jy net vier lopies tot sy span se totaal bygedra.)

Dié linkerhandkolwer sal hoop om sy goeie spelpeil in sy Gauteng-span te handhaaf in die nasionale o.17-week wat van 12 tot 16 Desember in Kaapstad gehou word. Hy het verlede jaar Gauteng se o.15’s in die nasionale week verteenwoordig.

Delano, wat reeds van graad nege af vir Marais Viljoen se eerste span speel, het ook dié seisoen welslae met sy naatboulwerk behaal.

Hy het 17 paaltjies teen ’n gemiddeld van 16.9 lopies per kolwer laat kantel.

Hy het tot dusver 95 boulbeurte afgestuur en 288 lopies in die proses afgestaan.

“Ek wil die gawes wat ons Vader aan my gegee het, toepas en aanhou om hard te werk,” het hy oor die doelwitte vir sy loopbaan gesê.

“My droom is om eendag my land te kan verteenwoordig.” Hannes Nienaber

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur