LEER OM TE KALMEER VOOR TOETSE EN EKSAMENS Simoné Sevenster
2012-11-07 01:00
Thinkstock

Leer om te kalmeer voor toetse en eksamens

Dis môre daardie laaste wiskunde vraestel voordat jy uiteindelik (en hopelik) met gemoedsrus met vakansie kan gaan.  Jy weet jy het hard geleer en wiskunde is nog altyd een van jou sterk punte...  Maar tog kan jy nie help om te stres daaroor nie. Jy ken al die roetine ’n paar uur voor enige toets: Jou hande begin skielik sweet, jy sukkel om te konsentreer, jou hart klop as jy net aan daardie vraestel dink en in sommige gevalle kan jy nie eers die werk onthou wat jy geleer het nie.
Stres en spanning is grootliks die oorsake van klam hande en geheueverlies. As jy van plan is om na matriek verder te studeer, en selfs al betree jy direk die werkomgewing, kan jy nie toelaat dat oormatige stres jou onderkry nie.

Oorweeg gerus die volgende wenke om te leer hoe om te ontspan voor toetse en eksamens:

•    Maak seker jy kry genoeg slaap
Moenie minder as ses ure slaap nie- dit kan daartoe lei dat jou brein nie genoeg rus kry na studiesessies nie, en dit kan ’n negatiewe invloed op jou prestasie hê.
•    Stel ’n prioriteitslys op  
Leer die belangrikste werk eerste sodat indien jy nie alles kan leer nie, jy die nodige werk onder die knie het. Begin ook vroeg genoeg leer – dit sal verseker dat jy nie tot laat in die aande (en selfs tot vroeg in die oggende) hoef te leer nie (wat immers tot uitputting lei).
•    Bly kalm
Stres kan veroorsaak dat jy vergeet wat jy geleer het en dus is dit baie belangrik om voor en tydens ’n toets kalm te bly.  Haal stadig en diep asem sodra dit voel of die spanning wil oorneem.
•    Moenie voor ’n toets by mense staan wat oor die leerwerk praat nie
Dit gaan jou net meer op jou senuwees maak.
•    Maak seker jy kry genoeg oefening wanneer jy voorberei vir ’n toets
Gaan stap of draf om die blok- dit sal jou aandag op iets anders as die leerwerk vestig.
•    Onthou om gereeld breuke te neem terwyl jy leer
Moenie langer as 45 minute tot ’n uur leer nie – dit kan veroorsaak dat jou konsentrasie afneem.
•    Lag hardop en aanhoudend vir enige iets
As jy sukkel om op jou eie te lag, kyk ’n snaakse film of televisieprogram en maak seker dat jy genoeg lag. Dit sal help om angstigheid en depressie te voorkom.
•    Daag betyds op vir die toets
Maak seker dat jy die tyd, datum en plek van die toets reg het, en wees vroeg daar sodat jy nie gejaag voel nie.
•    Moenie twintig minute voor die toets probeer om al die werk weer deur te gaan nie – jy  gaan net onnodige druk op jouself plaas.
•    Maak seker dat jy die oggend van die toets genoeg en voedsame kos eet
’n Mens kan nie op ’n nugter maag konsentreer nie., en as jy honger is mag jy dalk net te haastig wees om die toets klaar te kry en belangrike feite oorslaan.

As jy hard geleer het vir ’n toets en jy voel jy het jou kant gebring, het jy nie nodig om gespanne te wees nie.  Geen stres is ook nie ’n goeie teken nie, maar maak net seker dat jy ’n balans handhaaf: Wees eerder volleerd en laat bietjie stres toe in plaas daarvan dat jy heeltemal onvoorbereid is en glad nie gespanne is oor die vraestel nie.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur

Naam

2012-11-11 14:13

Kommentaar