NUWE SPIDER-MAN IS LEKKER! Jeanne Calitz
2012-10-30 01:00

Nuwe Spider-Man is lekker!

The Amazing Spider-Man

Fantasie

Hoe perfek is dit dat die regisseur van die nuwe Spider-Man-fliek se van Webb is!

Dit klink reeds na kismet, en kyk jy die fliek, word dit gou duidelik dat die samekoms van dié draaiboek en Marc Webb ’n goeie ontmoeting in meer as een opsig is.

Webb, bekend om die indie-treffer (500) Days of Summer, bring dieselfde jeugdige vreugde na die nuutste aflewering van die avonture van Peter Parker.

Maar eers, die nuus: Tobey ­Maguire is gepos, iets waaroor ek persoonlik nie spyt is nie, so ook Kirsten Dunst en haar karakter, Mary Jane. Peter se verhaal word van nuuts af vertel, en hierdie keer fokus die prent veel meer op die storie rondom sy ouers se dood, asook die navorsing waarmee sy pa destyds besig was.

Nou, amper in sy finale skooljaar, is Peter ’n slimkop met talent vir fotografie en ’n skerp humorsin. Vergeleke met sy voorganger kan die nuwe Peter (netjies gespeel deur Andrew Garfield) nie regtig meer kwalifiseer as ’n bleeksiel nie. Hoewel steeds ’n buitestander, het hy sy oog op die mooie Gwen Stacy (Emma Stone, nommerpas), en sy koekeloer lekker terug.

Tye het verander sedert die vorige Spider-Man-flieks – alternatief en emo is die nuwe cool (bonkige basketbalspelers is so laas jaar). En slim bly maar die beste soort sexy.

Dit help ook dat Peter skielik ’n nuwe paar talente ontwikkel.

Op ’n besoek aan die maatskappy waar sy pa gewerk het en waar daar nou hard met verskeie spesies se genetiese potensiaal geëksperimenteer word, word hy deur ’n radioaktiewe spinnekop gebyt. Sy transformasie is onmiddellik, en baie vermaaklik. Die tonele wat volg, met Peter wat die grense van sy vermoëns beproef en geniet, is vol humor en uitbundige genot.

Maar dit kan nie alles pret en plesier wees nie. Die held benodig ’n antagonis, en wanneer die goedgelowige Peter ’n waardevolle wetenskaplike formule aan OsCorp oorhandig, dra hy onwetend by tot die skepping van ’n monster.

Waarlik, ek kon nie veel fout vind met die fliek nie. Die booswig is, soos nog altyd met die Spider-Man-flieks, aan die ekstreme kant van laf, maar dit is deel van die strokiesboek-etos. Die spel is oor die algemeen knap. Garfield en Stone dra die fliek met wat lyk na groot gemak en elektrisiteit – die tweetjies is blykbaar in die regte lewe ook ’n paartjie. Die toneel waar hul karakters mekaar probeer uitvra, is ’n pragtige voorbeeld van warm, outentieke komedie.

En die aksie, vra jy? Dis ’n lekker wilde perd hierdie. Die gevegte is groot en gereeld, die uitbeelding sal jou ’n paar keer verskrik laat koes, en dan verleë laat proes.

Dis die soort fliek wat vra dat jy jou ongeloof opskort en jou inleef soos ’n kind, wat speel met daardie wonderlik verleidelike premis: Ons almal droom van buitengewone kragte.

Met: Andrew Garfield, Emma ­Stone en Rhys Ifans, Martin Sheen en ander.
Regie: Marc Webb
Tydsduur: 110 minute
Ouderdomsperk: 13VG.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur