'MAGIC MIKE' GAAN JOU LAAT SKATER Laetitia Pople
2012-10-30 01:00

Magic Mike
Komedie

Dit is nogal ironies dat die rolprent Magic Mike vandeesweek geadverteer word vir spesiale henne-voorskoue.
Dit handel oor Mike, 'n charismatiese manlike ontkleedanser wat juis ontgogel word deur die lewe van jillende vroue, deurtrekkers, tossels en liters baba-olie.

Mike word gespeel deur die voormalige ontkleedanser Channing Tatum (die fliek is losweg op sy lewe gegrond).
Mike is moeg daarvoor om 'n begeerlike voorwerp te wees, 'n speelding vir sekere vroue. Sy gereelde seksmaat hou byvoorbeeld nie daarvan as hy te veel praat nie.
Bedags lê Mike dakteëls vir 'n lewe, maar heimlik droom hy van sy eie meubel-onderneming.

Hy ontmoet Adam (Alex Pettyfer) en lyf hom in in die lewe van ontkleedans. Hy word toenemend verantwoordelik vir die jonger man. Dié storie as sulks het ons al baie gesien en uit verskillende hoeke. Dit is veral die verhaal van vroue wat as ontkleedansers of prostitute werk en hoop op 'n ander lewe. Hulle wag vir hul kans of die maat wat hulle gaan verlos. Dit is net 'n bietjie anders om dit nou vanuit 'n man se perspektief te sien.

Die regisseur Steven Soderbergh het 'n wisselvallige en eksentrieke benadering.
Soms is hy absoluut in die kol soos met die dwelmdrama Traffic en die doku-drama Erin Brokovich, asook sy verstommende debuut, Sex, Lies and Videotape. Hy kan ook lekker kykflieks soos Ocean's Eleven en die misdaaddrama Out of Sight maak.

Magic Mike is in die laasgenoemde kategorie. Dit is 'n vermaaklike kykfliek met histeriese oomblikke, maar later kry die fliek 'n ernstige, romantiese kinkel. Wat die mans op die verhoog doen, is 'n mengsel van teater en oëverblindery.

Om Matthew McConaughey te beleef as Dallas, die malhaas-baas van die Exqui­site-klub in sy ietsie-spanbroekie en met 'n kaalgeskeerde lyf, is gewoon 'n belewenis. Dallas droom van 'n nog groter klub in ­Miami en hy wil Mike as vennoot hê. Maar elke ontkleedanser het sy vervaldatum.

Die gegewe kon soveel meer bied as 'n mens dink aan die donker ironie wat Paul Anderson met Boogie Nights bereik het.
Tog volg jy Magic Mike en sy spannetjie prikkelprinse met volslae verwondering. Hulle leef as hegte gesin van die verhoog af. Hulle deel dwelms met mekaar en sommer ook hul wederhelftes. Sommige tonele kan net as insiggewend vir oningewydes van dié soort klubs bestempel word.

As kyker sukkel jy om die kloutjie by die oor te kry, veral oor die apparate wat ingespan word. Dis als natuurlik deel van die regisseur se plan. Soderbergh wil juis hê die kyker moet sien dat die mans blote speelgoed is.

Magic Mike gaan jou laat dink, jy gaan skater en jy gaan 'n bietjie huil. Terugskouend sou net McConaughey se spel reeds die prys van die kaartjie vir my die moeite werd maak.

Met Channing Tatum, Matthew McConaughey en ander.
Regie: Steven Soderbergh
Tydsduur: 110 minute
Ouderdomsbeperking: 16DLNS

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur