"SAFE" IS HOE 'N AKSIEFLIEK MOET LYK! Paul Boekkooi
2012-10-25 01:00

"Safe" is hoe 'n aksiefliek moet lyk!

Safe
Misdaadriller

Daar's vanselfsprekend baie ouens wat nie van Jason Statham hou nie. Moenie skaam wees nie. Steek gerus jul hande op. Ander hou weer van hom, veral vanweë sy nogal stylvolle Transporter-reeks en enkele ander blink produksies, soos Guy Ritchie se Lock, Stock and Two Smoking Barrels, wat aandag getrek én behou het.

The Mechanic van verlede jaar was 'n loopbaan-laagtepunt vir Statham. Met Safe herstel hy egter weer sy reputasie.
As Luke Wright, 'n Stoïsynse maar geskende man wat baie gou traumatiese teenslae oorwin, druk hy die Statham-aksieknoppie sodat niks - letterlik en metafories - in sy pad kan kom staan nie.

Dié aaneengestrengelde, vinnig bewegende misdaadmengsel is skokkend, maar tegelyk ook hoogs vermaaklik. Daar's uiterste geweld, asook die soort deeglik hanteerde spesiale effekte gemik op aksie wat elke bloedhond se stert sal laat swaai.
Kortliks handel die verhaal oor die volgende: Wright is 'n hokvegter, gelukkig getroud met Annie en woon in New Jersey. By 'n geveg wat deur wedstrydknoeiery voorafgegaan is, slaan hy nie neer soos daar vooraf ooreengekom is nie. Sy gesin word as gevolg hiervan so erg deur die Russiese mafia toegetakel dat sy vrou sterf en hy as 'n uiters geskende man agterbly. Net voor hy selfmoord oorweeg, kry Wright nuwe rigting in sy lewe. Hy red 'n tienjarige Chinese meisie, Mei (Catherine Chan), van haar Chinese mafia-agtervolgers. Sy besit 'n wiskundige brein wat syfers of formules in detail kan onthou. Sy is as't ware 'n lewende, lopende geheuestokkie. Maar kort voor lank begin ook die Russiese boosdoeners besef dat sy die geheime nommer van 'n kluis met baie geld in haar kop het?.?.?.

Net wanneer Wright 'n roeping in sy lewe kry deur Mei te beskerm, word hy getreiter en agtervolg, nie net deur die Russe en Chinese nie, maar ook deur sekere korrupte amptenare van die New Yorkse polisie en selfs dié stad se burgemeester wat leuens en korrupsie wil toesmeer.

Al dié verhaalontwikkelinge raak so ietwat verstrengel, maar wie gee om? Die tempo van die fliek dra jou saam en die vloedgolf van gegewens kom uiteindelik net op een ding neer: Onreg, kwaad en korrupsie hang soos 'n petrolreuk in die lug en die groepie goeie mense kan nie wag vir Luke Wright om die vuurhoutjie te trek nie.

Vir Statham doen dié emosionele rol iets. Hou gerus ook sy gesig dop. Daar's soms komiese verligting in die dialoë. Dit help. Ander kere word die plank lelik misgeslaan en alles raak cliché-agtig.

Min kykers sal egter verveeld raak. Dis mos presies hoe 'n Statham-fliek moet lyk.

 Met Jason Statham, Catherine Chan, Robert John Burke, Chris Sarandon, James Hong en ander.
Regie: Boaz Yakin
Tydsduur: 94 minute
Ouderdomsperk: 16TG

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur