LITTEKENS IN DIE SIEL GEKERF Adriaan Nieuwoudt
2012-10-15 01:00

Littekens in die siel gekerf

Toe ek nog 'n snotkopseuntjie was, het daar nooit 'n week verby gegaan sonder dat ek die een of ander rofie êrens op my lyf gehad het nie.

Ek was 'n regte plaasjapie. Ek was amper konstant vol modder en allerhande skrape en wonde. Sowat 'n dekade later sit ek eendag na my hande en staar. Elke litteken vertel sy eie storie. Soos die keer toe ek albaster wou speel met lewendige kole en daarna my pyn in 'n pond botter probeer stil het.

Terwyl ek so oor my merkies sit en tob, sluit 'n vriendin by my aan. Ek vertel haar toe van die keer wat ek steke moes kry in my vinger, van die gate wat ek in my arm geval het en ook van die littekens op my knieë, van die keer toe ek hekkies gehardloop het oor roosbome.

Ek vra haar toe of sý enige littekens het, want meisies is mos maar sagte skepsels en met al die roompies en olies sal daar sekerlik nie meer littekens wys nie – dis nou as daar ooit was.

Ná 'n lang stilte trek sy toe haar trui se mou op. Daar het vier dwarslyne oor haar pols na my gegluur. Sy het verleë probeer verduidelik dat sy nie 'n "cutter" is nie. Sy het net nie diep genoeg gesny nie. . .

Ek het nie geweet hoe om te reageer nie. Hier sit en lek ek my ou wondjies en skrapies, terwyl sy die emosionele bagasie van vier mislukte selfmoordpogings met haar saamdra. Daar's so baie wat ek wou vra, maar net een woord kon sy weg oor my lippe vind:
"Hoekom?"

'n Traan het oor haar make-up geloop. Sy wou nie daaroor praat nie.

Nou dink ek só oor die saak: Al het my getal littekens hare ver oortref, het nie een van myne naastenby so seer gesny soos dié wat diep in haar siel ingekerf het nie.

Sou sy net met my wou praat, kon ek haar las dalk ligter maak.
En moenie glo nie: Tyd genees geen wonde nie. "Deur Sy wonde is ons genees."

Adriaan is 'n JJ. Hy is in gr. 12 aan die Hoërskool Citrusdal.

KOMMENTAAR.



btn left image btn right image
Jou kommentaar in te dien, Tik twee woorde hieronder en klik op stuur